ADVERTISEMENT:

 

Tannie Marie droom steeds van warm bad

 

News  Date: 14 August 2009

 

Tannie Marie Booysen (88) van Herfsakker op Louis Trichardt glo en vertrou dat haar warmwatertoestel (geyser) vervang sal word, sodat sy weer lekker warm kan bad.

Vir die afgelope maand is die warmwatertoestel in hierdie munisipale woonstel buite werking. Dié probleem is voorafgegaan deur ‘n waterkrisis, waar die woonstel eers onder water en toe sonder water was.

“Die water is nou weer aangelê na tannie Marie se woonstel, maar daar is glad nie warm water nie,” sê ‘n huisvriend mnr. Johnny Dunhin, wat graag by die bejaardes in die munisipale woonstelle van Herfsakker en Laat Lente help.

Dinsdag (11de) het tannie Marie bevestig dat sy nog nie ‘n druppel warm water vir ‘n maand gehad het nie. Boonop is tannie Marie van Vrydag af regtig siek.

“Ek is so siek soos ‘n hond en my mond is vol koorssere. Ek was in jare nie so siek nie. Maar as ek nou warm water kry, klim ek in die bad. Niks sal my keer nie. Daar is niks wat jou so lekker laat voel soos ‘n lekker warm bad nie, “ sê tannie Marie.

Mnr. Dunhin sê dat hy gereeld namens tannie Marie die munisipaliteit skakel om te hoor wat die vordering is. Hy is die versekering gegee dat die warmwatertoestel teen Maandag, 4 Augustus, geïnstalleer sou wees.

Mnr. Eric Nel van Laat Lente, hoof van die nie-amptelike komitee van die senior burgers van Laat Lente en Herfsakker, het hierdie week gesê dat hy bewus is daarvan dat die be-trokke warmwatertoestel by die munisipaliteit aangemeld is.

“Dit is nie altyd maklik om dinge by die regte persoon gerapporteer te kry nie. Dit neem ook lank vir ‘n rekwisisie om geteken te word. Die munisipale behuising is baie jare gelede gebou en al die toestelle is gelyk ingesit en begin nou gelyk ingee,” sê mnr. Nel. Daar is meer woonstelle waar die toestelle lek en nie behoorlik warm maak nie.

In Junie het die Zoutpansberger in me. Jackie van Nieuwenhuizen se vreugde gedeel en gerapporteer dat haar warmwatertoestel herstel is, nadat sy tien maande sonder warm water klaargekom het.

‘n Munisipale amptenaar wat met die saak van tannie Marie se warmwatertoestel werk, het hierdie week gesê dat die bestelling uitgevoer is en dat hy, ten spyte daarvan dat hy met verlof is, sal poog om druk uit te oefen om die uitvoering te bespoedig.

“Toe die mense by my huis was, het ek gevra ‘Ag asseblief mense, sal julle nie my geyser regmaak nie?’ Ek het nou vir Jesus gevra dat Hy hulle ore moet open,” sê tannie Marie.

Intussen word alle gemeenskapsbetrokkenheid by Laat Lente en Herfsakker verwelkom. Vir meer inligting kan mnr. Nel geskakel word by 073 167 2111 of me. Van Nieuwenhuizen by 084 251 4990.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines