ADVERTISEMENT:

 

Munisipaliteit skik buite hof ná skadevergoedingseis

 

News  Date: 21 August 2009

 

‘n Elektriese fout wat ‘n inwoner van Louis Trichardt duisende rande se skade berokken het, het in Julie vanjaar die Makhado Munisipaliteit genoop om net meer as R45 000 skadevergoeding aan hom uit te betaal.

Mnr. Stefaans Schoeman, wat net buite die dorp op ‘n plaas bly, het vertel dat hy telkens die munisipaliteit moes uitkry om sy elektrisiteitsvoorsiening op die plaas te herstel, vanweë gedurige kabeldiefstal. In April verlede jaar was dit weer die geval. Die munisipaliteit het uitgekom om die herstelwerk te doen, maar Schoeman het agtergekom daar is fout, toe sy elektrisiteitsrekening skielik verdubbel het.

Weer is die munisipaliteit laat kom en daar is gevind dat die munisipale amptenare die kabels in die meterkas omgeruil het en dat hy eintlik besig was om sy buurman se kragrekening te betaal. Dit was toe die munisipaliteit gepoog het om dié probleem op te los, dat hulle ‘n groter blaps gemaak het.

Die munisipale elektrisiën het tydens die opkoppeling foutiewelik die lewendige en neutrale kragdrade omgeruil. Dit het tot gevolg gehad dat daar 380 volt, instede van 220 volt, aan Schoeman se huis voorsien is.

“Mens weet daar is iets fout as alles in jou huis begin rattle, die ligte skielik helder begin skyn en eensklaps is alles donker,” het Schoeman vandeesweek gesê.

Weens die oorbelading het talle van Schoeman se elektriese toestelle in sy huis in die slag gebly, onder meer sy televisie, vrieskas en mikrogolfoond. In totaal het die skade R45 592 beloop.

“In daardie stadium was ek besig om ‘n nuwe onderneming op die been te bring en my versekering was nog nie in plek gewees nie,” sê Schoeman. Só ‘n bedrag was beslis nie kleingeld vir hom nie.

Schoeman het dadelik die probleem by die munisipaliteit aangemeld. Hy is egter deur die munisipaliteit van bakboord na stuurboord gestuur en is deur hulle aangeraai om ‘n prokureur te gaan sien. Hy was onbewus daarvan dat, ingevolge die Wet op Wettige Prosedures teen Staatsliggame, hy dadelik ‘n skriftelike klag by die munisipale bestuurder moes indien. Hierdie belangrike inligting is nie deur die munisipaliteit aan hom bekendgemaak nie. Nadat niks ten opsigte van sy klagte gebeur het nie, het hy in Augustus verlede jaar ‘n skriftelik klag ingedien. Steeds het daar niks van gekom nie.

In Februarie vanjaar het Schoeman besluit om sy prokureur te gaan sien. In daardie stadium het die munisipaliteit aangevoer dat hulle Schoeman wel ingelig het oor die prosedure wat gevolg moet word, maar dat hy “onredelik was en gery het sonder om ‘n klag in te dien.” Die munisipaliteit het aangevoer dat, synde Schoeman die klag laat ingedien het, hulle nie verantwoordelik gehou kan word vir die skade nie.

Kort hierna het Schoeman se prokureurs dokumente op die munisipaliteit bedien, waarin die hof gevra is om kwytskelding vir die laat indiening van ‘n eis. Kort vóór die saak op 22 Julie in die hof moes voorkom, het die munisipaliteit egter besluit om buite die hof te skik en die volle skadever-goedingsbedrag, sonder prokureurskostes, is aan Schoeman uitbetaal.

Mnr. André Naudé, ‘n plaaslike prokureur, het Maandag gesê dit is belangrik dat mense weet dat hulle ‘n eis om skadevergoeding by die munisipaliteit kan indien. Hy sê egter dat hierdie eis aan sekere vereistes moet voldoen.

Eerstens moet die eis skriftelik opgestel word en moet daar liefs ‘n eisverslag aangeheg word wat al die skade duidelik uiteensit. Die eis moet by die munisipale bestuurder ingedien word en dit word aanbeveel dat ‘n kopie waarop die munisipaliteit ontvangs erken, gehou word.

Mnr. Naudé het gemaan dat sulke eise binne ses maande van die voorval ingedien moet word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines