

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 August 2009
Tannie Marie Booysen van Herfsakker op Louis Trichardt het Dinsdag ‘n welkome klop aan haar huis se voordeur gekry.
Mnr. Stefaans Schoeman, ‘n plaaslike entrepreneur, het vroeg Dinsdagoggend aan Tannie Marie se deur gaan klop, met die nuus dat hy daar is om vir haar ‘n splinternuwe warmwatertoestel (geyser) te installeer.
Tannie Marie vertel dat sy heeltemal bewoë geraak het, toe sy tot die amper onwerklike besef gekom het dat die mense daar is om haar te help. “Ek het sommer begin huil toe ek eers besef dat die mense hier is om te help.”
Dit volg nádat die Zoutpansberger verlede week berig het oor Tannie Marie se dilemma. Tannie Marie het vir meer as ‘n maand gesukkel met die warmwatertoestel wat opgepak het. Dié probleem was ook voorafgegaan deur ‘n waterkrisis, waar die woonstel eers onder water en toe sonder water was.
Stefaans het besluit om in te spring en sy hulp aan te bied, nadat hy die berig gelees het. Hy het sy dienste gratis aangebied en self die warmwatertoestel by die munisipaliteit gaan oplaai en installeer.
Tannie Marie was vreeslik opgewonde en kon nie wag om ‘n heerlike lang warm bad te vat nie.
“As die mense klaar is, gaan ek ‘n heerlike bad vat. Ek is oneindig dankbaar dat iemand my kom help het.”
Stefaans het gesê dat hy graag mense met nood by Laat Lente en Herfsakker wil help, mits daar iemand is wat die nodige toerusting of onderdele kan voorsien.

ADVERTISEMENT:
