ADVERTISEMENT:

 

Te midde van die voortslepende staking van werkers van Ons Tuiste, was daar ‘n gesellige viering van ‘n werker wat 30 jaar diens by die ouetehuis het. Voor, van links, is me. Kittie de Bruin (bestuurder), ingeskrewe verpleegassistent (IVA) Edna Mukhoro met 30 jaar diens, en suster Santie Jonker. Agter staan stafverpleegster Delilah van der Linde en IVA’s Petro Fourie, Elsie Erasmus en Heleen Thiart.

Ná dertig jaar glo sy nie meer aan staak nie

 

News  Date: 21 August 2009

 

Te midde van die voortslepende staking van werkers van Ons Tuiste, was daar ‘n gesellige viering van ‘n werker wat 30 jaar diens by die ouetehuis het.

Ingeskrewe verpleegassistent me. Edna Mukhoro het op 12 Augustus ‘n sertifikaat vir 30 jaar se getroue diens ontvang.

“Ek werk al lank hier, want die Here het my hier ingebring. As Hy my spaar, werk ek sommer nog 30 jaar. Ek strike nie,” het me. Mukhoro by die geselligheid gesê. Sy sê dat sy nie by die unie aangesluit het nie. Die oggend van 15 Julie, toe die staking begin het en die vakbondlede uitgehardloop het met die blaas van ‘n fluitjie, het sy gestaan en kyk wat aangaan.

“Ek het gewonder en nie geweet wat aangaan nie. Al die siek mense het geskrik,” vertel hierdie verpleegassistent in haar goeie Afrikaans. “Daarna moes ek meer kere inkom, maar dit voel nie soos harder werk nie, dit voel ligter,” sê Mukhoro.

Die ander verpleegpersoneel beaam hierdie stelling en sê dat die werk ligter voel, omdat hulle so goed as ‘n span saamwerk.

“Daar is so ‘n goeie gesindheid tussen ons almal. Die ouetehuis loop op olie. Vroeg-vroeg is ons kant en klaar met die pasiënte wat vol wasse moet kry,” sê ingeskrewe verpleegassistent (IVA) Petro Fourie, wat sommer nou ook elke dag al die vloere politoer. “Die ouetehuis was nog nooit so skoon nie,” sê stafverpleegster Delilah van der Linde.

IVA Heleen Thiart sê dat die ou mense nou rustig is, maar dat dit nie so goed sou gegaan het sonder die uitstekende bestuur van me. Kittie de Bruin nie. “Sy gee ons inspirasie. Ons sou dit nie gemaak het as dit nie vir haar was nie. Te midde van alles is sy steeds nooit iesegrimmig nie,” sê Fourie.

Die permanente verpleeg-, huishoudelike en adminstratiewe personeel trek die wa deur die drif by Ons Tuiste. Hulle is die helde wat stil-stil baie ekstra ure werk en baie ekstra pligte uitvoer. Aan hulle sy is flukse aflospersoneel en vrywilligers. By die verpleegpersoneel is daar vyf verpleegassistente en drie opgeleide verpleegpersoneel.

“Die gemeenskap help ons baie met allerlei hulp”, sê De Bruin. “Ons werk nou rustig voort, terwyl ons wag vir ‘n ooreenkoms.”

Die 29 vakbondlede van Ons Tuiste staak om hoër lone. Die werkgewer se aanbod vir vakbondlede is ‘n 7.5% verhoging wat op 1 Junie vanjaar in werking gestel is. Die vakbondlede eis onder meer ‘n deur-die-bank verhoging van 13 %. Die beheerraad volstaan egter by die oorspronklike aanbod.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines