

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 August 2009
Vreesbevange en olike inwoners van die Soutpansberg-omgewing staan tou by plaaslike geneeshere, nadat dit verlede week bevestig is dat die pandemiese H1N1-virus ook nou op die dorp en omliggende omgewings kop uitgesteek het.
Luidens verskeie medici het inwoners egter geen rede om onrustig of paniekbevange te raak nie, alhoewel die siekte in ernstige gevalle potensieel noodlottig kan wees. Die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (NIOS) het bevestig dat 56 gevalle van die H1N1-griep in die provinsie aangemeld is en dat 18 mense in Suid-Afrika reeds aan die virus dood is. In meeste gevalle was dit jong kinders of swanger vroue.
Prof. Denise White, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Assosiasie (SAMA), het egter verlede week in ‘n persverklaring gevra dat die publiek kalm bly en die siekte nie buite verband moet ruk nie.
“Daar was ‘n wydverspreide uitbreek van die siekte, maar meeste van die gevalle is gematig en ernstige gevalle van die siekte is uiterse skaars.”
Die H1N1-virus, beter bekend as varkgriep, is vir die eerste keer vroeër vanjaar in Mexiko en Amerika geïdentifiseer. Heelwat ander vastelande is intussen geaffekteer. NIOS het dit duidelik gestel dat die H1N1-virus nie deur kontak met varke of die eet van varkprodukte versprei nie. Hulle het verduidelik dat aanvanklike toetse sekere ooreenkomste getoon het met griepvirusse wat normaalweg by varke in Noord-Amerika voorgekom het en vandaar die naam.
Plaaslike geneeshere het hierdie week klem daarop gelê dat griep ‘n siekte is wat miljoene mense regoor die wêreld raak en grootliks deur mense onderskat word. Net in Amerika alleen sterf daar ongeveer 20 000 mense jaarliks aan griep.
Een plaaslike dokter het bevestig dat hy bewus is van drie gevalle van varkgriep in Louis Trichardt, waarvan een ‘n hoërskool leerling is. Nog ‘n dokter het gesê dat hy bewus is van heelwat meer gevalle. Die mediese sentrum op Musina het ook gesê dat hulle bewus is van een geval van varkgriep op dié dorp.
Ten spyte hiervan is plaaslike medici ook van mening dat inwoners tans geen rede het om paniekbevange te raak nie.
“Dié virus is ‘n mutant van die gewone griepvirus. Daarom is dit nie meer of minder gevaarliker as ‘n gewone verkoue nie,” het een plaaslike dokter gesê. Hy het mense gemaan om eerder hulle dokter te gaan sien as hulle vermoed dat hulle varkgriep onderlede het.
Tans word laboratoriums oorval met toetse en vat dit ongeveer ‘n week voordat ‘n pasiënt die uitslae terugkry. Daarom sal ‘n geneesheer eerder eie diskresie gebruik en besluit wanneer om medikasie vir varkgriep voor te skryf. ‘n Pasiënt met ‘n onderdrukte immuniteitstelsel sal dadelik behandel word vir varkgriep, al is die simptome nog gematig.
Dr. Lappies Labuschagné het dit beaam en verduidelik hoekom die virus so vinnig versprei. Volgens hom ontstaan ‘n griep-pandemie wanneer ‘n nuwe virus te voorskyn kom waarvoor die oorgrote meerderheid van mense nie ‘n weerstand het nie. In die geval van die H1N1-virus, was die virus dormant gewees en het mense hul weerstand teen die virus verloor en versprei dit baie soos gewone seisoenale griep – van mens tot mens.
“Verspreiding van die virus sal afneem, sodra mense ‘n weerstand teen die virus begin opbou,” sê dr. Labuschagné.
Hy het duidelik gemaak dat daar aanvaar kan word dat baie mense in die dorp een of ander vorm van die virus onderlede het, maar dat die virus net regtig gevaarlik is vir mense met ‘n onderdrukte immuniteitstelsel, soos swanger vroue, mense wat HIV-positief is, jong kinders, persone oor die ouderdom van 65 en mense met chroniese siektes soos diabete.
Simptome is soortgelyk aan die van seisoenale griep, naamlik koors, hoes, seer keel, verstopte of loopneus, lyfseer, hoofpyn, gebrek aan energie en kouekoors in die ernstige gevalle, diarree of braking.
By kinders moet daar opgelet word na geirriteerdheid en ‘n velkleur wat verander na ‘n blouerige of grys kleur. Gevaartekens by volwassenes is duiseligheid en aanhoudende braking. In die geval van hierdie simptome moet ‘n geneesheer dadelik geraadpleeg word.
Nege van die 18 bevestigde varkgriepsterfgevalle in Suid-Afrika was swanger vroue, hoofsaaklik in hul derde trimester van swangerskap.
NIOS het gesê wanneer ‘n vrou in ‘n vroeë stadium van swangerskap is, kan sy en haar dokter op grond van haar kliniese toestand oor die antivirale medisyne, Tamiflu, besluit. Daar word aanbeveel dat vroue wat ver swanger is en mense wat aan chroniese siektes ly, dadelik antivirale medisyne moet ontvang, sonder om te wag vir toetsuitslae.
Luidens die NOIS is daar tans nie ‘n entstof om ‘n mens teen die H1N1-virus te beskerm nie, maar dit wil blyk of die staat nog Tamiflu aankoop om na al die hospitale te versprei. Plaaslike geneeshere is egter almal van die mening dat varkgriep oorwin kan word deur die verspreiding van die virus te beperk.
“Die belangrike punt is dat verstandige voorsorgmaatreëls, persoonlike higiëne en die inagneming van ander mense baie kan help om on in hierdie pandemie te beskerm,” het Old Mutual se Mediese Hoofbeampte, dr. Peter Bond gesê.

ADVERTISEMENT:
