

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 August 2009
Die polisie op Louis Trichardt moes inderhaas verdagtes na die hospitaal vervoer, nadat die vangwa waarin hul vervoer is binne-in ‘n muur vasgejaag het op Vrydagaand, 21 Augustus.
Volgens ooggetuies het die polisievangwa haastig vanaf die onderdorp gery gekom in Groblerstraat en met ‘n ander luukse voertuig gebots wat die kruising by Rissikstraat probeer oorsteek het.
“Die luukse kar het eerste gestop en hy het seker gedink die polisievoertuig gaan ook stop en het toe begin wegtrek.”
Die vangwa het egter na bewering nié gestop nie en oor die kruising gejaag en teen die sykant van die luukse voertuig gebots. Die vangwa het hierna teen ‘n muurtjie by die oorkantse motorhandelaar op die hoek van Rissik- en Groblerstraat vasgejaag.
In die proses is ‘n deel van die muur omgery, ‘n lig van een van die gebruikte voertuie is uitgestamp en die voorkant van die vangwa is ernstig beskadig.
Twee lede van die polisie het pas twee verdagtes in Tshikota, net buite Louis Trichardt, gearresteer in verband met ‘n diefstalklag en was op pad om dié twee by die aanklagkantoor te gaan inboek.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag gesê dat een van die konstabels binne-in die vangwa ligte beserings opgedoen het, terwyl die twee verdagtes agterin na die provinsiale hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.
Die insittendes van die luukse voertuig is vir skok behandel en het geen hospitalisasie nodig gehad nie.
Kapt. Sadike het gesê daar word ‘n saak van nalatige bestuur ondersoek teen albei die bestuurders.
Mnr. Walter Gilfillan van A1-motors het hierdie week gesê dat die skade aan die muur en voertuig ongeveer R10 000 beloop en dat hulle dit van die Staat sal moet eis.
Volgens Gilfillan is dit ook nie die eerste keer dat so iets met hulle gebeur nie. Daar het verlede jaar ‘n vrou met haar kar binne-in dieselfde muur vasgejaag en ook etlike duisende rande se skade veroorsaak.

ADVERTISEMENT:
