

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 August 2009
Die staking by Ons Tuiste Ouetehuis op Louis Trichardt is iets van die verlede.
Die stakende vakbondlede het op 17 Augustus diens hervat, nadat hulle sedert 15 Julie gestaak het.
“Dit gaan baie rustig by Ons Tuiste. Die stakers het almal die voorwaardes onderteken, voordat hulle toegelaat is om weer te begin werk,” het mnr. Johan Lordan, lid van die tehuis se beheerraad, gesê.
Die voorwaardes sluit in die aanvaarding van die 7.5% verhoging wat die werkgewer aangebied het en wat sedert 1 Junie vanjaar reeds in werking gestel is. Dit sluit ook in dat die vakbondlede onderneem om tot 30 Mei volgende jaar nie aan enige industriële aksie deel te neem nie.
“Dit gaan goed. Die vakbondlede wat teruggekom het werk toe, voer hulle opdragte uit. Ons trek ook die leisels ‘n bietjie stywer en laat nie laatkommery en loodswaaiery toe nie,” sê me. Kittie de Bruin, bestuurder van die ouetehuis.
Die staking was gegrond op die beginsel van geen werk geen betaling. Die vakbondlede het verliese aan inkomste gely wat wissel van tussen R1 000 en R4 000. Die plaaslike vakbondleier, mnr. Justice Nenwedi, het die staking verleng in weerwil daarvan dat die algemene sekretaris van die vakbond CCRAWUSA, mnr. Isaac Mosweu, die staking na 12 dae afgelas het. Die vakbond het onder andere ‘n verhoging van 13% geëis.
Die 29 stakende vakbondlede het, na die aanvanklike ontstellende, luidrugtige vertoon buite die ouetehuis, later moeg geword om elke dag oorkant die pad te kom sit. Die groepie het al hoe meer uitgedun en net vir ‘n paar uur hul verskyning gemaak en soms glad nie. Die beginsel het gegeld dat hulle nie die perseel mag betree of met die nie-stakende werkers inmeng nie.
Intussen het die permanente personeellede, saam met die afloswerkers en vrywilligers, met ‘n baie geslaagde spanpoging die dienste by Ons Tuiste op geoliede wiele laat loop. Die gemeenskap het ook hart en hand oopgemaak en bystand verleen in al die fasette van die werk.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
