

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 August 2009
Die dringende behoeftes van die toenemende getal Zimbabwiërs wat ‘n tydelike heenkome in Suid-Afrika probeer vind, geniet nou konstruktiewe aandag op Louis Trichardt.
Talle van die mense is onderweg na bestemmings elders in die land. Hulle het meestal finansiële hulp nodig om verder te gaan. Heelparty bevind hulle egter haweloos en sonder ‘n alternatiewe bestemming op die dorp. Hulle benodig voorlopige versorging en werksgeleentheid. Almal benodig minstens tydelike oornagskuiling.
Benewens plaaslike nie-regeringsorganisasies, raak die plaaslike munisipaliteit en ook verskeie internasionale agentskappe betrokke by pogings om die groeiende noodsituasie op gekoördineerde wyse te hanteer. Kos, klere, skuiling, werksgeleentheid en vervoer is die algemeenste behoeftes van gemiddeld 150 haweloses wat daagliks op Louis Trichardt versorg moet word.
Verskeie kerklike instansies het reeds met aktiewe deernis gereageer deur daagliks op georganiseerde wyse kos aan die mense te verskaf, op die versamelpunt naby Ayob Motors. ‘n Sopkombuis word reeds sedert verlede jaar deur die welsynsorganisasie The Helping Hand South Africa (THHSA) vir die mense op die perseel van Motor Town op die dorp bedryf.
‘n Skuiling vir onbegeleide hawelose seuns word deur die plaaslike Rooms Katolieke kerk bedryf. Die Jesuïete se vlugtelingdiens op die dorp verskaf ‘n wye spektrum noodhulp, wat wissel van kospakkies tot losiesgeld en treinkaartjies. Tshitandani Childcare is ook gemoeid met die versorging van haweloses.
Doelmatige nagskuiling ontbreek egter nog.
Verteenwoordigers van die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM), die Rooikruis en die Verenigde Nasies se hulpagentskappe het die afgelope week besoeke aan Louis Trichardt gebring om hulle te vergewis van die situasie. Hulle het kontak gemaak met plaaslike belanghebbendes en is bereid om toe te tree met hulp aan gevestigde plaaslike organisasies.
Verteenwoordigers van die IOM het vandeesweek ‘n kontrak vir die verspreiding van hoë-proteïen beskuitjies aan THHSA toegeken. Die rantsoene word bedoel as padkos vir die groot getal mense wat te voet van die een plek na die ander beweeg. IOM verskaf op Musina hierdie padkos en 5-liter waterkannetjies aan die mense wat die 100km en meer te voet aanpak. Die mense word by binnelandse sake se tydelike kantoorsentrum aangesê om “aan te beweeg” sodra hulle hul tydelike permitte ontvang het.
‘n Informele forum van belanghebbendes op Louis Trichardt is in kontak met die plaaslike munisipaliteit om die moontlikheid van ‘n tydelike oornagskuiling vir die groot getal haweloses te oorweeg. ‘n Doelmatige perseel moet nog gevind word.
Intussen word ook aandag gegee aan die behoefte aan ‘n oornagskuiling vir plaaslike haweloses. Hulle is hoofsaaklik ongeskoolde, werklose broodwinners wat van die omliggende dorpies in die Sinthumule, Kutama, Nzhelele en Vleifontein-areas na die dorp toe kom om tydelike loswerkgeleenthede te vind. Hulle is nie finansieel in staat om daagliks na hul tuistes terug te keer nie en bevind hulle gevolglik ook haweloos op die dorp. Die moontlikheid om vir hulle tydelike oornagskuiling in die Tshikota Lodge-kompleks te vind, word ondersoek.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
