ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Lourens Bar-nard, ‘n onderwyser van Louis Trichardt, herstel tans tuis nadat hy by ‘n kuierplek op Louis Trichardt erg aangerand is. Foto verskaf.

Onderwyser erg aangerand by kuierplek

 

News  Date: 04 September 2009

 

Wat veronderstel was om ‘n aand van pret en plesier te wees, het in ‘n nagmerrie ontaard vir ‘n onderwyser van Louis Trichardt, nadat hy na bewering aangerand is by ‘n gewilde kuierplek op die dorp.

Mnr. Lourens Barnard, ‘n onderwyser van Hoërskool Louis Trichardt, het ernstige harsingskudding opgedoen, ná ‘n kuier by die Rugbylapa verlede Saterdagaand, 22 Augustus.

Lourens se moeder, mev. Marie Barnard, het hierdie week gerugte ontken dat haar seun se beserings daaraan toegeskryf kon word dat hy besope was en geval het. “Hy is in werklikheid wreed aangerand,” het sy gesê.

Mev. Barnard het haar boeglam geskrik toe ‘n erg-beseerde Lourens deur van sy vriende die betrokke aand by haar huis afgelaai is.

“Hy was deurmekaar, het gekla van ‘n kwaai hoofpyn en sy gesig was heeltemal stukkend geslaan,” het mev. Barnard gesê.

Wat presies daardie aand by die kuierplek gebeur het, bly ‘n raaisel. Lourens ly aan tydelike geheueverlies ná die voorval en kan glad nie onthou wie hom aangeval het nie. Mev. Barnard sê dat volgens Lourens se vriende wat saam met hom die aand gekuier het, Lourens ‘n selfoonoproep ontvang het, waarna hy na buite uitgestap het. Toe hy te lank wegbly, het hulle na hom gaan soek. Groot was hulle skok toe hulle hom bewusteloos in ‘n plas bloed op die netbalbane agter die rugbylapa kry.

By nadere ondersoek is daar gevind dat Lourens se selfoon vermis word. Sy beursie was nog in sy broeksak, maar dit was onduidelik of daar enige geld vermis was.

Sondagoggend ná die voorval is Lourens oorgeplaas na die hoësorgeenheid van die MediClinic in Polokwane. Geneeshere se voorlopige bevinding was dat Lourens weens die harde houe teen sy kop, kwaai bloeding op die brein opgedoen het en na alle waarskynlikheid voortaan epileptiese aanvalle sal kry.

Lourens is verlede Donderdag, 27 Augustus, uit die hospitaal ontslaan. Onder omstandighede gaan dit goed met hom, hoewel hy steeds groot las van hoofpyne het.

“Die dokter het aanbeveel dat hy by die huis moet bly en rus,” sê mev. Barnard.

Daar sou hierdie week Woensdag verdere breinskanderings gedoen word, sodat die presiese omvang van die breinskade bepaal kan word.

Die polisie op Louis Trichardt kon teen druktyd nog nie die voorval bevestig nie, maar volgens mev. Barnard is daar wel ‘n saak van aanranding geopen. Sy het ‘n beroep gedoen op mense om haar te skakel indien hulle enige inligting het wat hulle kan help om Lourens se aanvallers op te spoor. Sy kan geskakel word by tel. 082 955 2498.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines