

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 September 2009
Presies ‘n jaar nadat hul seun in ‘n gru-ongeluk in Noordwes gesterf het, kon ouers Frik en Sougnet Nel van Louis Trichardt uiteindelik op 8 September hul seun ‘n finale rusplek gee.
Met die woorde “Veilig in Jesus hoede” as afskeidsgroet op die klein marmertablet, het Frik gehelp om sy seun, Johan, se nis te seël in die gedenkmuur by die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente. Minute tevore het Johan se twee jong kinders, Hendrik (10) en Jeannette (9), self hul pa se as in die nis geplaas.
“Hy is by die huis,” het Frik stil opgemerk.
Die 36-jarige Johan Nel is op 8 September verlede jaar op slag dood, nadat sy bakkie en ‘n vragmotor naby Brits in Noordwes Provinsie gebots het. Frik en Sougnet kon egter nie vir hul seun ‘n begrafnis gee nie, want die Staat het Johan se oorskot ná die ongeluk laat wegraak.
Op 19 Julie vanjaar is ‘n kommissie van ondersoek geloods na die omstandighede wat daartoe bygedra het dat die Staat Johan se oorskot kon verloor het. Die kommissie is aangestel deur die premier van Noordwes, me. Maureen Modiselle, danksy druk van die Nel-egpaar en die burgerregte-organisasie Afriforum. Die kommissie is getaak om eerstens uit te vind hoe Johan se oorskot verlore geraak het, asook om te kyk na ander probleme rakende die Noordwes Provinsie se staatslykshuise.
Om nege-uur op Vrydagaand, 31 Julie, het Frik en Sougnet die oproep ontvang ... Johan se oorskot is gevind. Daar is bevestig dat Johan reeds maande tevore in die Oukasie-begrafplaas op Brits as armlastige begrawe is. Die rede waarom die Staat nie sy oorskot kon vind nie, was omdat hy saam met ‘n ander liggaam in dieselfde sak begrawe is. Kort daarna is daar met reëlings begin om sy oorskot na Louis Trichardt te bring. Dit het ‘n paar weke geduur, maar vir Frik en Sougnet het die bietjie langer wag nie saak gemaak nie. Die feit was, hul seun was op pad huis toe.
Die afgelope twaalf maande was vir die Nel-egpaar niks anders as hel op aarde nie. Die onsekerheid, heen en weer reise, lykuitkennings, verskonings, teleurstellings en DNS-toetse het ‘n erge emosionele tol geëis, asook op Johan se kinders wat September verlede jaar by ‘n leë nis moes staan en wou weet “Waar is pappa?”
“Ek wens niemand dit toe nie,” het Frik Dinsdag gesê.
“Dit is die einde van ‘n hoofstuk, maar die begin van ‘n nuwe. Die stryd begin nou eers,” sê Frik. Hul stryd is om seker te maak dat ander families nie ‘n soortgelyke ervaring moet deurmaak nie. Hopelik, sê Frik, sal die kommissie van ondersoek se bevindinge probleme ten opsigte van staatslykshuise se hantering van geliefdes se oorskot aanspreek. In hierdie stadium is die kommissie se bevindinge egter nog nie amptelik bekendgemaak nie.
Dat die regering erns toon met die saak is duidelik. ‘n Senior verteenwoordiger van Noordwes Provinsie se Departement van Gesondheid, me. Mmule Rakau, het spesiaal Dinsdagoggend vanaf Rustenburg deurgery om die diens namens die LUR van Gesondheid in Noordwes by te woon. Sy is vergesel deur nog ‘n senior regeringsbeampte, Mnr. Tom Kgomo, van die Limpopo Provinsie se Departement van Gesondheid, namens die Premierskantoor. Met ‘n ruiker in die hand het Rakau en Kgomo die Nel-familie met deernis vertroos en die versekering gegee dat die saak aandag geniet.
“Ek het nie gedink hulle gaan kom nie ... Ek kan nie vir julle sê wat dit vir my beteken dat hulle hier was nie,” het Frik ná die diens opgemerk.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
