

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
‘n Zimbabwiese vrou is verlede week wreed ontnugter tydens ‘n inkopie-besoek aan Louis Trichardt, toe sy helder oordag deur drie gewapende mans beroof is. Asof dit nie erg genoeg was nie, wou verbygaande polisiebeamptes haar nie help nie en in die proses het die rowers ontsnap.
‘n Erg getraumatiseerde mev. Nadenè Streak is van etlike duisende rande beroof, maar is gelukkig genoeg om met haar lewe daarvan af te kom. Dié drama het homself verlede Donderdag (10de), net voor 17:00 op die hoek van Munnik- en Songozwistraat afgespeel.
Streak, wie se naaste familie in Pretoria bly, is vrou-alleen gestrand gelaat met niemand wat haar kon help nie. Sy was op pad om haar dogter in Tzaneen te gaan haal, voordat hulle saam by familie in Pretoria sou gaan kuier het.
Streak het na haar motor teruggekeer, nadat sy ‘n vinnige paar inkopies afgehandel het. Sy het ingeklim en haar venster afgedraai. Uit die niet het die rowers op haar toegesak.
Twee ongemaskerde mans het by haar deur kom staan, ‘n vuurwapen op haar gerig, haar handsak gegryp en kontant geëis. Terwyl die booswigte deur haar handsak gegrou het, het een van hulle Streak gedreig en gesê hulle sal nie huiwer om haar dood te skiet nie.
“Die een man het vir my gesê sy baas staan by die passasierskant en dat hy my breins sal wegblaas as ek enige skielike bewegings maak. Ek was te bang om te kyk of daar regtig iemand staan,” het ‘n ontstelde Streak kort na die voorval gesê.
Die rowers het die kontant in haar handsak gevat, waarna hulle rustig begin wegstap het toe ‘n polisievangwa in die straat afgery gekom het. ‘n Omstander wat gesien het hoe hulle Streak beroof, het dadelik die polisievoertuig voorgekeer, die rowers uitgewys en hulp gevra.
Tot die omstander en Streak se ontnugtering, het die polisiebeamptes na bewering geweier om op te tree en die verdagtes agterna te sit deur bloot te sê: “Dit is nie ons saak nie”.
Intussen het eienaars van omliggende besighede Streak te hulp gesnel. Mev. Madeleen de Beer van American Swiss het weereens die polisie geskakel. In daardie stadium het die rowers om ‘n straathoek verdwyn.
Nadat ‘n tweede groep polisiebeamptes opgedaag het, moes Streak weer deur die trauma gaan om aan die inspekteur te verduidelik wat gebeur het.
Weer is omstanders en Streak geskok tot die inspekteur dié keer, volgens Streak, vir haar vra waarom hulle die polisie geskakel het as die verdagtes reeds weggekom het.
Streak het haar vasgeloop toe sy ‘n saak wou open teen die eerste inspekteur wat haar nie wou help nie. Sy sê die inspekteur het geweier om ‘n saak te open want sy kon nie “die inspekteur se naam of registrasienommer van die polisievangwa” verskaf nie.
Intussen het plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike bevestig dat daar wel ‘n klagte in dié verband ontvang is, maar dat daar geen saak geopen is nie. Dit was sy mening dat die eerste inspekteur vermoedelik nie die saak wou ondersoek nie, omdat die polisie tans groot las ondervind met lede van die publiek wat vals klagtes van diefstal aanmeld. Tog het hy lede van die publiek versoek om dadelik die polisie se noodnommer te skakel indien hulle soortgelyke behandeling van polisiebeamptes ontvang. Die nommer is 083 206 5594. Sadike het die versekering gegee dat sulke klagtes dadelik na die stasiebevelvoerder verwys sal word vir verdere ondersoek.
Streak het ná die voorval haar opregte dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat haar behulpsaam was.
“Ek het in my groot ontsteltenis vergeet om die man wat alles gesien gebeur het se naam te vra. Ek sou hom bitter graag self wou gebel het om hom te bedank. Meneer, jy weet net nie hoeveel dit my hart verbly het om te sien dat daar nog mense is wat omgee vir ander in tye van nood nie.”

ADVERTISEMENT:
