

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
Drie voertuie het Woensdagoggend in die slag gebly, nadat ‘n verkeersvoertuig gedurende ‘n wilde jaagtog agter ‘n verdagte voertuig aan ‘n stopteken verontagsaam het.
In wat sterk herinner aan ‘n toneel uit ‘n aksie rolprent, het ooggetuies vertel hoe die verkeersmotor deur die lug getrek het, nadat dit ‘n bakkie binne-in die kruising van Ruh- en Andersonstraat op Louis Trichardt getref het.
Volgens mnr. Jaco Ferreira, die bestuurder van die bakkie, was hy besig om uit Andersonstraat in die rigting van die hospitaal in Ruhstraat op te draai en was hy reeds amper deur die kruising toe die ongeluk gebeur het.
Die verkeersvoertuig, wat vanaf die hoërskool suidwaarts in die verkeerde baan in Andersonstraat afgejaag het, het Ferreira se bakkie getref, oor die sypaadjie geploeg, ‘n stopteken ontwortel en so byna bo-op me. Jolene Roussouw se voertuig, wat by die oorkantste stopteken stilgestaan het, te lande gekom.
‘n Ontstelde Rossouw het vertel hoe sy gesien het daar kom groot moeilik toe die verkeersvoertuig met al sy ligte en sirenes in die straat afgejaag gekom het.
Sy het haar boeglam geskrik toe die verkeersvoertuig amper bo-op haar motor se dak te lande gekom het, nadat dit Ferreira se bakkie getref het en deur die lug gevlieg het.
Die verkeersmotor het haar motor se dak rakelings gemis.
Die verkeersvoertuig het meters verder tot stilstand geskuur. Niemand is in die voorval beseer nie.
Kapt. Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, het kort na die voorval bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur teen die bestuurder van die verkeersvoertuig geopen is.

ADVERTISEMENT:
