

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
Mnr. Andrè van Tonder (32) van Louis Trichardt is erg gefrustreerd, nadat hy al meer as ‘n jaar lank wag om te kwalifiseer vir ‘n ongeskiktheidspensioen.
Van Tonder, wat sy regterarm in ‘n motorongeluk verloor het, het verlede week vertel dat hy reeds in Junie verlede jaar aansoek gedoen het by die plaaslike kantoor van SASSA (Suid-Afrikaanse Sosiale Sekuriteitsagentskap) om kwalifikasie vir sy ongeskiktheidspensioen. Sy uitbetalings is al meer as R16 000 agterstallig en boonop sukkel hy om werk te kry.
Van Tonder vertel dat die aansoekproses maklik was en dat die beampte belowe het om hom te skakel sodra sy aansoek afgehandel is. Sedertdien het niks gebeur nie en het hy besluit om self weer navraag te gaan doen.
“Die beampte se geliefkoosde antwoord was dat hy wag vir hoofkantoor om goedkeuring te gee. Een keer het hy vir my gesê hulle kort nog dokumente van my vorige werkgewer.”
Nadat Van Tonder die nodige dokumente aan die beampte verskaf het, het die beampte hom meegedeel dat sy aansoek goedgekeur is en dat hy in Augustus sy eerste betaling sou ontvang. Augustus het egter gekom en gegaan en steeds het Van Tonder nie sy pensioen ontvang nie.
Sy navrae het weer op leë beloftes uitgeloop. Mnr. Vincent Ramela, die beampte wat Van Tonder se aansoek hanteer het, het volgens Van Tonder hom huis toe gestuur en belowe dat sy geld op 1 September in sy bankrekening sou wees. Dit het egter ook nie gebeur nie.
Mnr. Ramela het by navraag geweier om kommentaar te lewer en het alle navrae verwys na SASSA se provinsiale kantoor in Polokwane. ‘n Woordvoerder van die provinsiale kantoor, mnr. Moseki, het verlede week bevestig dat dit inderdaad onreëlmatig is vir so ‘n aansoek om so voort te sleep. Hy het verduidelik dat ‘n aansoek eintlik baie vinnig afgehandel word, omdat hulle oor ‘n elektroniese sisteem beskik. Volgens hom behoort ‘n persoon betaling te ontvang ‘n maand na ‘n suksesvolle aansoek.
Moseki het verder gesê dat daar dringend ondersoek gedoen sal word in Van Tonder se geval om presies te bepaal wat fout gegaan het. Hy het egter die vermoede uitgespreek dat daar dokumente is wat dalk verlore geraak het of nooit ingedien is nie.
Volgens Moseki moet ‘n aansoeker ‘n afskrif van sy identiteitsboekie, bewys van inkomste en besittings en ook ‘n huweliksertifikaat indien as hulle binne gemeenskap van goedere getroud is. Dit is ook baie belangrik om ‘n beëdigde verklaring saam te bring wat as bewys dien dat die aansoeker werkloos is.
“Ons sal ook mnr. Van Tonder terugwerkend vergoed vir al die agterstallige paaiemente en hy behoort sy eerste betaling in Oktober te ontvang,” het hy belowe.

ADVERTISEMENT:
