

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
‘n Lekker bord kos word deur die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar. Dit is ongelukkig nie altyd die geval vir die bejaarde inwoners van Louis Trichardt nie.
Danksy Meals on Wheels kon bejaarde inwoners, sowel as minderbevoorregte mense, ook een maal ‘n week aansit by ‘n smaaklike bord gekookte kos. In Junie vanjaar is hierdie instansie egter genoop om die etes te staak. Die rede hiervoor was dat daar eenvoudig net nie meer genoeg skenkings ontvang is nie. Volgens mev. Karien Honeycomb van Meals on Wheels was dit hartverskeurend om almal mee te deel dat etes gestaak gaan word.
Meals on Wheels is ‘n landswye liefdadigheidsorganisasie wat spesifiek fokus op die voedselbehoeftes van behoeftige bejaardes en gesinne. Hulle ontvang geen subsidies vanaf die Staat nie en is algeheel afhanklik van die publiek vir skenkings.
Dié organisasie, wat al vir bykans 20 jaar op die dorp bedrywig is, is in die verlede altyd goed ondersteun deur die publiek. Die projek het gegroei vanaf 1990, toe daar begin is met ‘n skamele 30 borde kos wat per week afgelewer is. In 2005 het Karien die stuur oorgeneem en was hulle tot dusver geseën deur oorvloedige skenkings.
“Ons het 72 borde kos per week afgelewer in die dorp en ook aan kleuterskole in die om-liggende omgewing,” vertel Karien. Vir haar was dit egter die lekkerste om vir die bejaardes te kook en te gaan aflewer, want al was dit net eenmaal per week, het so ‘n bord kos die wêreld se verskil gemaak vir hulle.
Karien verduidelik dat bejaardes se herfsjare dikwels belaai is met seer en stywe gewrigte, verswakte visie en gehoor en algemene verswakte gesondheid - veral omdat hulle nie altyd gesond eet nie. Baie van hierdie bejaardes moet boonop oor die weg kom met ‘n skamele staatspensioen.
“Meeste van die oumensies bly ook alleen en sien nie die nodigheid om vir hulself te kook nie; hulle sal sommer net ‘n stuk brood vir aandete eet,” sê Karien. Die trane het geloop toe sy vir die oumensies moes vertel dat sy nie meer vir hulle kan kos kook nie.
Tans ontvang die organisasie ‘n maandelikse bydrae van die Sewende Dag Adventiste Kerk, maar hierdie bedrag is te min om genoeg kos vir almal te kook. Karien sê hulle benodig tans R2 000 per week om die etes te kan voorsit.
Mevv. Ann Scott en Nadine Weideman van Water 2000 het te hore gekom van Meals on Wheels se dilemma met skenkings en het besluit om iets daadwerkliks omtrent die saak te doen. Hulle het onderneem om die volgende vier weke R8 000 te skenk aan Meals on Wheels. Dit is R2 000 vir elke week, sodat daar voortgegaan kan word met die voorbereiding van die etes.
“Ons daag ook ander ondernemings uit om hierdie skenking te ewenaar of selfs te verbeter, sodat Meals on Wheels kan voortgaan met hulle goeie werk,” het die twee vroue verlede week gesê.
Karien was verheug oor die skenking en het haar dank uitgespreek teenoor die twee vroue. Sy het die hoop uitgespreek dat die hele gemeenskap hierdie uitdaging sal aanneem en werklik meer betrokke sal raak.
Enige bruikbare skenking, soos vars groente, vleis of vrywillige hande, sal verwelkom word.
“Al kan iemand net ‘n sak aartappels skenk, sal dit reeds baie help. Mense moet net nie ophou skenk nie,” het Karien gesê. Sy kan geskakel word by tel. 072 177 3286.

ADVERTISEMENT:
