

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
Doelgerigte toewyding en harde werk – dit is die kort en kragtige wenresep vir die uitmuntende prestasie van Rirothe Construction CC wat Limpopo Provinsie heel bo-aan die prestasielys geplaas het vir die verskaffing van gesubsidieerde behuising.
Projekbestuurder mnr. Franna Knoetze van Louis Trichardt sê toewyding, volgehoue harde werk en die sinvolle verdeling van die werk tussen goed-gemotiveerde spesialisspanne het dié welslae aan Rirothe besorg.
Dié onderneming is met vanjaar se Govan Mbeki-toekenning vir provinsiale behuising bekroon as die Bouer van die Jaar in die kategorie vir gesubsidieerde bouwerk. Dié wenprestasie is behaal deurdat Rirothe 500 HOP-huise binne die rekordtyd van vier maande voltooi het. Die huise is gedurende die 2008/9 finansiële jaar in die Thulamela munisipale gebied opgerig.
Die gesogte toekenning is tydens ‘n glansdinee by Meropa Casino, Polokwane, op 28 Augustus deur die LUR vir plaaslike regering en behuising, mnr. Soviet Lekganyane, aan mnr. Omar Ahmed van Rirothe oorhandig. Mnr. Ahmed is ‘n bekende in plaaslike onderwys- en sakekringe en bedryf reeds vir etlike jare geakkrediteerde opleidingsentrums in die Vhembe-distrik vir spesialis-ambagte in die boubedryf. Hy het Franna verlede jaar genader om as projekbestuurder vir boukontrakte op te tree.
Rirothe is tydens die oorhandigingsplegtigheid geloof vir hulle uitstaande prestasie in die lewering van hoë-gehalte laekoste behuising, wat nie net ordentlike beskutting aan behoeftige mense bied nie, maar ook uitmuntende in-diens-opleiding verskaf het aan ambagslui. Die persone is steeds in diens by die onderneming en het die vooruitsig om dié mate van beroepskundigheid te ontwikkel wat hulle instaat sal stel om later self as kontrakteurs te kan optree.
Franna het in ‘n onderhoud gesê die wenpropjek is onderneem met behulp van 300 mense wat onderling ingedeel was in bou-, pleister- en afrondingspanne. Laasgenoemde was verantwoordelik vir die oprigting van die dakke en die insit van vensters en deure. ‘n Afsonderlike span het die toilette opgerig.

ADVERTISEMENT:
