

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
Die Makhado Munisipaliteit het die uitslag bekend gemaak van Die Grasdak Gastehuis en Restaurant se aansoek vir spesiale gebruik en die besware daarteen.
Die eienaar van Die Grasdak, me. Anette du Preez, het Dinsdag gesê dat sy die uitslag ontvang het en oorweeg om te appelleer.
Op 27 Mei het ‘n munisipale verhoor plaasgevind waar besware geopper is wat insluit die onaanvaarbare hoë vlak van geraas, die bedryf van ‘n kroeg by die gastehuis en die verkoop van drank aan kliënte van die straat af.
Daar is ook tydens dieselfde verhoor ‘n aansoek vir spesiale gebruik van die eiendom, geleë op die hoek van Erasmus- en Cilliersstraat, voorgedra deur die prokureur, me. Stephanie van der Westhuizen. Die aansoek vir spesiale gebruik is vir die doeleindes van oornagakkommodasie, gastehuis en restaurant. Die munisipaliteit het op ‘n raadsvergadering van 13 Augustus kennis geneem van die besware. Verder het hulle die aansoek vir spesiale gebruik as oornagakkommodasie/gastehuis en restaurant onder Klousule 16 van die Louis Trichardt Dorpsbeplanningskema van 2000, goedgekeur, onderhewig aan sekere voorwaardes.
Dit sluit in dat die restaurant slegs gebruik mag word deur persone wat die oornagfasiliteit gebruik en hulle gaste. Drank mag slegs aan persone verkoop word wat die oornagfasiliteit gebruik. Genoegsame maatreëls moet getref word om oormatige geraas te beperk wat steurend vir bure kan wees. Genoegsame parkering moet verskaf word. Die spesiale toestemming geld vir die 12 maande vanaf 1 Julie vanjaar.
Me. Du Preez sê dat hulle oorweeg om appèl aan te teken teen sekere van die voorwaardes. Sy sê dat die besigheid al sestien jaar bestaan. Die besigheid sal op 1 November elf jaar in haar besit wees en die vorige eienaar het die besigheid vyf jaar bedryf.
Volgens die munisipaliteit geld dieselfde voorwaardes vir alle gastehuise in residensiële areas. Gastehuise mag drank verkoop aan gaste wat van die oornagfasiliteite gebruik maak. ‘n Kroeg met drankverkope aan die publiek kan slegs op ‘n sakeperseel bedryf word. ‘n Gastehuis wat in die “skuldbult” area van Louis Trichardt bedryf is, is in 2006 onverwyld toegemaak, nadat hulle nie die voorwaardes nagekom het nie en besware deur die bure ingedien is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
