

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 September 2009
Die Zoutpansberger en Limpopo Mirror is weer op soek na daardie foto’s wat die Soutpansberg se natuurprag en diversiteit van die streek se mense die beste uitbeeld.
Ja, dit is weer tyd vir die koerantgroep se gewilde jaarlikse kalenderfoto-kompetisie met ‘n totale prysgeld van R6 000. Oudergewoonte sal die 12 weninskrywings, een foto vir elke maand, in ‘n A2-formaat 2010-kalender opgeneem word wat deur die Zoutpansberger en Limpopo Mirror vir bemarkingsdoeleindes aangewend sal word. Die kalenders sal ook teen ‘n minimale bedrag te koop wees.
Slegs hoë-kwaliteit foto’s met temas wat duidelik uniek is aan die Soutpansberg sal oorweeg word. Vorige jare is heelwat wildlewefoto’s ontvang. Hierdie jaar sal die koerantgroep egter meer inskrywings wil sien rondom die streek se mense (portretstudies), kulturele erfenis (argitektuur) en landskapstonele. Wildlewefoto’s is egter steeds welkom.
Die kompetisie word beperk tot ‘n maksimum van vyf inskrywings per deelnemer. Die deelnemer moet self vooraf hul vyf keuses maak.
Die foto’s moet verkieslik in hoë-resolusie digitale formaat wees, aangesien lae-resolusie foto’s nie goed reproduseer nie. A4-vergrotings van filmkameras is ook welkom, maar geen selfoon- of poskaartgrootte foto’s sal in ag geneem word nie. Buiten vir filmafdrukke, moet inskrywings verkieslik op CD geplaas word.
Op elke inskrywing moet daar duidelik aangedui word wie die fotograaf is, die kontakbesonderhede, watter kamera en lens (indien beskikbaar) gebruik is en waar en wanneer die foto geneem is. Alhoewel tegniese aspekte soos die kwaliteit en skerpheid van die foto’s in ag geneem sal word, hoef die foto op die ou einde slegs ‘n mooi prentjie te maak.
Die sluitingsdatum vir inskrywings in 6 November. Elk van die wenfoto’s wat gekies word sal teen R500 elk vanaf die fotograaf aangekoop word.
Inskrywings kan by die kantore van die Zoutpansberger te Jou-bertstraat 16B, Louis Trichardt ingehandig word.
Vir meer inligting, skakel Andries van Zyl by tel. 015 516 4997 of skryf aan [email protected]

ADVERTISEMENT:
