

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 September 2009
Dis amptelik. Gedurende die afgelope oorsigtydperk wat van 1 April 2008 tot 31 Maart 2009 strek, het moordsyfers geen dramatiese styging getoon nie en ‘n redelike konstante neiging gehandhaaf. In teenstelling daarmee is die toename in veral diefstal en huisbraak in Louis Trichardt en die omliggende omgewing kommerwekkend.
Dit is luidens die nuutste misdaadstatistiek vir die 2008/9 jaar wat deur die minister van polisie, mnr. Nathi Mthethwa, bekendgemaak is tydens ‘n nuuskonferensie op Dinsdag, 22 September.
Gewapende huisroof het die afgelope jare ‘n kommerwekkende toename getoon, wat inwoners se persepsie dat hulle onveilig is, bevestig het. In Louis Trichardt styg hierdie syfers vir die oorsigtydperk van vyf tot nege gevalle, terwyl Levubu en Musina se syfers onderskeidelik van een na ses en van 11 na 13 gevalle styg. In die vorige finansiële jare was hierdie syfers dikwels nul.
Gewone huisbrake het, daarenteen, ‘n kon-stante afwaartse neiging gehandhaaf sedert die finansiële jaar 2003/4 tot met die huidige jaar.
In hierdie jaar tot einde Maart het gewone huisbraak van 159 gevalle gedaal na 154 in Louis Trichardt. In Musina het huisbrake ook gedaal van 195 tot 187, terwyl Levubu se syfers egter ‘n groot styging getoon het van 68 na 105 gevalle.
“Misdaad in ons land het ‘n unieke gewelddadige karakter. Ons erken die polisie moet meer doen om dié soort misdaad te pak,” het Mthethwa gesê.
“Die misdryf is baie indringend (in mense se lewens) en dit verpersoonlik die misdaadervaring. Ons kan eenvoudig nie ‘n situasie aanvaar waar mense nie veilig in hul eie huise voel nie.”
Mthethwa het onderneem dat die polisie hulle in die komende jaar veral op hierdie aspek sal toespits.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het hierdie boodskap beaam en gesê mense kan self ook meer doen om hierdie syfers te verlaag.
“Vra jou buurman om na jou huis te kyk as jy weggaan vir die naweek, en maak altyd seker dat jou huis se deure en vensters gesluit is in die aande,” het kapt. Sadike gesê.
Volgens die verslag word ondernemings swaar getref deur dief-stal.
In Louis Trichardt styg inbrake by sakepersele van 109 tot 129 gevalle. In Musina het die syfer egter gedaal van 55 na 45, terwyl Levubu weer die grootste toename gehad het in inbrake by sakepersele van 33 tot 51 gevalle.
Volgens Mthethwa se verslag is dit veral klein ondernemings wat die slagoffers is van misdaad, omdat kontant meestal op die perseel aangehou word.
Moord en poging tot moord het ook afgeneem oor die af-gelope paar jaar.
In Louis Trichardt het die gevalle van moord wat sedert 2003/4 aangemeld is, redelik konstant gebly. Vir die huidige oorsigtydperk is daar drie meer (van sewe na 10) gevalle as die vorige jaar aangemeld. In Levubu is daar vir die tydperk vier moorde (twee die vorige jaar) aangemeld en in Musina het die getal moorde afgeneem van 16 na 11.
Die styging in seksuele misdrywe is ook uiters kommerwekkend. In Louis Trichardt styg die aantal gevalle van 32 na 48, in Musina van 57 tot 91 en in Levubu was daar ‘n afname van 74 na 61 voorvalle.
Mthethwa het gesê ondanks die algehele toename van seksuele misdrywe is daar ‘n klein afname in misdade teenoor vroue en kinders.
“Ons moet egter die maatreëls versterk om dié misdryf te bestry,” het hy gesê.

ADVERTISEMENT:
