

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 September 2009
Danksy ruimhartige inwoners van die Soutpansbergstreek kan Meals on Wheels weereens voortgaan met hul weeklikse etes vir die dorp se bejaarde en minderbevoorregte mense.
Dit volg na ‘n artikel in verlede week se Zoutpansberger, waarin daar berig is oor die dilemma waarin Meals on Wheels hul bevind het, nadat hulle noodgedwonge hul etes moes staak.
In Junie vanjaar was hulle genoop om die bejaardes en minderbevoorregte mense se etes te staak omdat skenkings vanaf die publiek opgedroog het.
Mevv. Ann Scott en Nadine Weideman van Water 2000 het verlede week gesê dat hulle van plan is om ‘n totaal van R8 000 oor die volgende vier weke aan Meals on Wheels te skenk. Hulle het ander ondernemings uitgedaag om hul skenking te ewenaar of selfs te verbeter.
Een van die eerste organisasies wat hierdie uitdaging aangeneem het, was die vroue van die plaaslike Rotary Anns. Hulle het besluit om van die fondse uit hul Helping Hands fonds te bewillig en sal vir die volgende jaar R2 000 per maand aan Meals on Wheels skenk vir een week se etes. Die vroue sal ook die nagereg uit hul eie sakke borg.
Mev. Mariaan Stoop, lid van die Rotary Anns, het dié week gesê dat mense asseblief die Helping Hands fonds moet ondersteun deur ‘n kaartjie te koop, sodat daar voortgegaan kan word om plaaslike liefdadigheidsorganisasies te ondersteun.
Mev. Karien Honeycomb het vandeesweek haar opregte dank uitgespreek teenoor almal wat skenkings gemaak het. Sy het ‘n spesiale woord van dank gehad vir Water 2000, Rotary Anns, Louis Trichardt Beer Distributors, Zoutpansberg Meule, Pick ‘n Pay, Woolworths, Martin Funerals en mnr. Willem van der Merwe, wat gereeld skenkings maak.
“Ons sal die eerste week in Oktober weer die bejaardes se kos begin aflewer,” het Karien gesê.
Sy het ook ‘n beroep gedoen op mense om nie op te hou met hul skenkings nie.
“Gereelde skenkings sal verseker dat ons aan die gang sal bly en elke week kan kos aflewer.”
Karien kan geskakel word by tel. 072 177 3286.

ADVERTISEMENT:
