ADVERTISEMENT:

 

"Ek gaan my hel eindig"

 

News  Date: 05 December 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "Ek het hierdie week deur lewende hel gegaan, my eie hel. Ek wou jou lewe makliker maak en jou laat aangaan met jou lewe."

Dit was van die laaste woorde van die 19-jarige Deon van Zyl in 'n brief aan sy vriendin, kort voordat hy Saterdag, 29 November, besluit het om sy eie lewe te neem deur homself op te hang.

Die gebeure wat aanleiding gegee het tot hul seun se dood, het tergende vrae en 'n leemte sonder antwoorde gelaat in sy ouers se gemoed. Sy moeder, Valerie, is egter daarvan oortuig dat 'n intieme verhouding, deurweef van dwelms, alkohol en seks, 'n groot rol gespeel het in haar seun se selfmoord.

"Ons wil nie ons seun se naam sleg maak nie. Hy was 'n dierbare, jong en pragtige seun, maar mense moet weet waardeur hy gegaan het en watter hartseer dit tot gevolg het as 'n verhouding skeef loop," vertel Valerie.

Valery sê dat haar seun se verhouding met 'n veel ouer vrou net as vriendskap begin het. Dit het egter gou omgesit in 'n intieme verhouding.

"Ons was van die begin af gekant teen die vurige verhouding. Dit is nie normaal dat só 'n jong seun in 'n verhouding is met 'n vrou bykans dubbel sy ouderdom nie."

Deon se emosies het wipplank gery. Dit was 'n wipplankrit wat hom geneem het van baie gelukkig tot 'n wrak van die mens wat hy eers was. Die familie het probeer om hom te steun in sy probleme en het selfs die hulp van 'n sielkundige in te roep. In die dae voor sy selfmoord, sê Valerie, was hy emosioneel geknak, depressief en bedruk. Dit het gevolg nadat die vrou besluit het om die verhouding met hom te beëindig.

"Ek wil vir die gemeenskap vra, hoe kan 'n vrou van 37 jaar oud met 'n seun van 19 jaar oud mors wat nog nie veel weet van groot verhoudings nie. Hy het sy kop verloor op iemand wat alles in 'n oogwink weer van hom af weggeneem het."

In sy laaste brief skryf Deon: "...ek wil jou (vriendin) hulp vra, want wie gaan ek anders kan vra. Hierdie goed wat binne in my rondhardloop en alles verkeerd om my laat werk, is iets wat ek nie ken nie. Ek kan dit nie beheer nie en ook nie verstaan nie ...

"...en as jy nie kans sien om my terug te vat nie, weet ek nie. In daai spasie binne in my is iets groots wat eet en eet en eet en ek weet nie hoe om te keer dat dit my mal maak en jaag en druk totdat ek wil hardloop en hardloop en nooit ophou nie."

Hul seun se dood het bitterheid en verwyt in sy ouers en familie se gemoed agtergelaat. Hulle is egter oortuig daarvan dat Deon se selfmoord direk toe te skryf is aan 'n verkeerde keuse in vriendskap en 'n verhouding.

"Ek vra die Here hy moet my vergewe, maar ek moet die ouers van die dorp waarsku teen sulke vrouens.

"Dit is nie maklik nie. Hoe maak 'n mens ... hoe verwerk jy dit. Dit is baie pynlik, maar ons hoop ons seun se dood en ons boodskap verhoed dat ander ouers soortgelyke hartseer moet ervaar."

Deon word Vrydag (5de) om 11:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk op Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy ouers, Valerie en Hennie, broer, Andries, en susters Nicolette en Shirley. Hy sou volgende jaar siviele ingenieurswese gaan studeer het. Tot voor sy dood was hy werksaam by 'n plaaslike landmeterbesigheid.

"Ons seun is dood, maar ons weet hy is by die Here. Hy het nie meer pyn nie."

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines