

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 October 2009
Die twee mans wat daarvan aangekla is dat hulle ondermeer ‘n bekende sakeman van die Louis Trichardt in die plaaslike polisieselle aangerand het, is op Dinsdag, 15 September, hier in die landdroshof skuldig bevind.
Gift Ramokgopa (23) en Thilivhalo Ramukhuvhathi (21) is skuldig bevind op drie klagte van aanranding, nadat hulle vroeër vanjaar drie mede-selmaats aangerand het.
Die klagte teen die twee spruit uit ‘n voorval op 21 Julie vanjaar toe hulle Brain Sinwamali, S Dzhombere en sakeman Quentin Thompson in die selle aangerand het. Thompson (37) is ‘n mede-eienaar en winkelbestuurder van die bekende firma Thompson’s Motors. Hy is op 21 Julie in die selle aangehou, nadat hy gearresteer is in wat wyd beskou is as ‘n onregmatige arrestasie deur polisiebeamptes.
Polisielede van Johannesburg het na bewering ‘n klag van motordiefstal ondersoek, toe hulle sonder enige seremonie by Thompson’s Motors opgedaag het. Die speurders het beweer dat een van die voertuie wat in die werkswinkel gestaan het, vermoedelik ‘n gesteelde voertuig was.
Thompson is gearresteer nadat daar ‘n woordewisseling tussen hom en die speurders uitgebreek het ná die speurders na bewering geweier het om hulself te identifiseer.
Thompson is op vier klagte (die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig, dwarsboming van die gereg, verhindering van die polisie in die uitvoering van hulle pligte en aanranding van ‘n polisiebeampte) in hegtenis geneem en na-ure borg geweier.
Hy is oornag in die selle aangehou en moes homself in die selle met geweld verdedig, nadat van die aangehoudenes hom aangeval het. Hy is eers die volgende dag op borg vrygelaat.
Ramokgopa het skuldig gepleit op die klagte dat hy Sinwamali aangerand het, maar skuld ontken dat hy Thompson en Dzhombere aangerand het. Ramukuvhathi het onskuldig gepleit op al drie die klagte.
Die hof het albei egter skuldig bevind op al drie klagte.
Ramokgopa is op die twee klagte van aanranding op Thompson en Dzhombere skuldig bevind en 16 maande gevangenisstraf opgelê. Op die klagte van Sinwamali se aanranding is hy ‘n boete van R1 500 opgelê of drie maande gevangenisstraf.
Ramukuvhathi is skuldig bevind op al drie klagte van aanranding en 24 maande gevangenisstraf opgelê, sonder die keuse van ‘n boete.

ADVERTISEMENT:
