ADVERTISEMENT:

 

Reuse nuwe residensiële ontwikkeling vir Musina

 

News  Date: 02 October 2009

 

‘n Reuse nuwe residensiële uitbreiding word vir Musina in die vooruitsig gestel.

Twee nuwe uitbreidings, wat voorsiening maak vir 1 000 gedienste woonerwe, word nou voorberei. Die eerste fase van die ontwikkeling, wat voorsiening maak vir 300 erwe, sal na verwagting reeds vroeg aanstaande jaar begin. Die gemiddelde grootte van die woonerwe is 600 vierkante meter en groter. Dit is gemik op die middel inkomste groepe. Die ontwikkeling maak ook voorsiening vir ‘n skool, kerk- en sakeperseel.

Die ontwikkeling van die woonpersele en dienste word behartig deur Ranchero Development, ‘n swart bemagtigingsgroep op Musina.

Mnr. Hennie Erwee van Erwee Prokureurs, wat as projekleiers aangestel is, sê dit is algemeen bekend dat daar ‘n groot behoefte aan beskikbare woonerwe op die dorp is. Die beoogde ontwikkeling, wat sal bekendstaan as Musina Uitbreiding 20 en Uitbreiding 21, is reeds verlede jaar in beginsel goedgekeur deur die Musina Munisipaliteit. Die private ontwikkelaar van die gedienste erwe is nou besig met die voorbereiding, wat ondermeer die voorgeskrewe omgewingsimpakstudie insluit. ‘n Openbare vergadering, waarop alle belanghebbendes insette kon lewer, is vroeër vandeesweek ter aanvoering van die proses op Musina gehou.

Erwee sê die ontwikkeling word beplan op sowat 160 hektaar ou landbougrond wat binne die munisipale gebied val. Dit is geleë aan die oorkant van die Pontdrif-pad, teenoor Nancefield. By navraag het hy ontken dat die beoogde ontwikkeling aan enige van die verskeie bestaande gasteplase langs die Pontdrifpad grens.

Oor besware op die vergadering van belanghebbendes dat die munisipaliteit nie eers instaat is om die bestaande dienste in die huidige dorp in stand te hou nie, sê Erwee die frustrasie met swak dienslewering op die dorp loop hoog. Hy meen egter dié besware raak nie werklik die beoogde ontwikkeling nie en sê die beskikbaarheid van dienste maak deel uit van die ooreenkoms tussen die ontwikkelaar en die munisipaliteit. Volgens Erwee is daar voldoende elektriese krag van Eskom beskikbaar en die ontwikkelaar sal verantwoordelik wees vir die oprigting van die nodige substasie.

Die feit dat daar tans steurende waterbeperkings op die dorp is, beteken volgens Erwee ook nie daar ‘n tekort is aan voldoende watervoorraad nie. Hy sê die probleem lê by die munisipaliteit se huidige pompkapasiteit wat onvoldoende is weens swak instandhouding. Erwee sê egter dat dit probleme is wat deur ‘n belastingbetalersvereni¬ging met die munisipaliteit opgeneem behoort te word. Die ontwikkelaar sal op sterkte van die leweringsooreenkoms met die munisipaliteit inderdaad ook instaat wees om van sy kant die nodige druk toe te pas.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines