

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 October 2009
Dit was weereens ’n baie suksesvolle jaar vir die TLU SA Levubu, nadat hulle vir die derde agtereenvolgende jaar die gesogte Commondale-trofee gewen het as beste boereverening in Suid-Afrika binne TLU SA verband.
Die toekenning is aan dié boerevereniging gemaak tydens die TLU SA se jaarkongres by die WNNR in Pretoria op 9 en 10 September.
Lede van TLU SA Levubu is baie trots op die toekenning en die bestuur het nie net elke lid nie, maar almal wat gehelp het om Levubu die afgelope jaar op te hef en ‘n verskil te maak, bedank.
“Sonder ‘n entoesiastiese gemeenskap sou ons dit nie kon regkry nie,” het die bestuur gesê.
Suid-Afrika se kommersiële boere produseer volgens peilings 90% van die land se voedsel en dra ook die meerderheid by tot die voedselmandjie van Afrika. Die rol van die sektor is dus nie net deurslaggewend vir voedsel onafhanklikheid en sekuriteit in Suid-Afrika nie, maar ook vir die hele Afrika. Vandaar die tema van hierdie jaar se Jaarkongres, naamlik Die kommersiële boer onderhou Afrika - Ons sal boer! Dit is egter van kardinale belang dat die sektor in staat gestel behoort te word om voort te gaan met voedselproduksie, en daarom bly die beskerming en koestering van die kommersiële landbousektor steeds TLU SA se hoof-prioriteit.
Tydens die kongres het TLU SA gesê dit is verblydend dat daar uiteindelik in regeringskringe besef is dat Afrika nie sonder die kommersiële landbousektor van Suid-Afrika kan oorleef nie. Die verdeling van die landbou- en grondsake-portefeuljes is deur TLU SA verwelkom.
“Terugvoering dui daarop dat die huidige grondherverdelings¬program ‘n mislukking is wat nie net Suid-Afrika nie, maar ook Afrika in totaliteit nie kan bekostig nie. Desnieteenstaande word dit steeds as ‘n doelwit gestel en hang die swaard van grond-onteiening steeds oor die kommersiële boer se kop,” het TLU SA gesê.
Van die aspekte wat spesifiek tydens die kongres aangespreek is, het onder meer ingesluit die rol van die kommersiële boer binne die plaaslike regering, inaggenome die daarstel en instandhouding van infrastruktuur, ten einde die boer in staat te stel om volhoubaar te produseer; beskerming van hulpbronne en die daadwerklike aanspreek van die waterbesoedelingdilemma om te verseker dat die kommersiële boer volhoubaar kan produseer; oplossings vir die versekering van landelike veiligheid ten einde die kommersiële boer in staat te stel om sy stabiliserende rol in die landelike gemeenskap te vervul; en die status van eiendomsreg en verwikkelings rondom eiendomsreg in Afrika en spesifiek Suid-Afrika.

ADVERTISEMENT:
