ADVERTISEMENT:

 

Prof Koos van Rooy, projek koördineerder van die nuwe vertaling van die Bybel in Zoeloe, is vir ‘n paar dae op besoek in die Soutpansberg vanaf Pinetown. Die vertaalprojek vorder buitengewoon goed.

Prof Koos vorder fluks met Zoeloe-Bybel

 

News  Date: 02 October 2009

 

“Ek is so opgewonde soos ‘n kind daaroor,” sê prof. Koos van Rooy oor sy betrokkenheid by en die buitengewone vordering met die nuwe vertaling van die Bybel in Zoeloe.

Dié veteraan sendeling en Bybelvertaler van Louis Trichardt het die afgelope Sondag weer die erediens behartig in die Songozwi-gemeente van die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt. Hy is vir ‘n tydjie hier vanaf Pinetown in Kwa-Zulu/Natal, waarheen hy en sy eggenote, mev. Regina van Rooy, verhuis het.

“Ek bewonder my vrou wat bereid was om na Pinetown te trek,” sê Prof van Rooy, met sy kenmerkende vriendelike glimlag.

“Sy verlang, ja, maar kla nie. Ons is tuis in ‘n wonderlike gemeente in Pinetown.”

Prof. Van Rooy is in Julie 2008 deur die Bybel Genootskap gevra om die nuwe vertaling as eksegeet en projekkoördineerder ter hand te neem. Hy is sedert Januarie vanjaar “67% in hul diens.”

Volgens kenners is daar ‘n dringende behoefte aan ‘n nuwe vertaling in Zoeloe. Die huidige beskikbare 1966-vertaling word beskryf as só letterlik dat Zoeloes dit nie verstaan nie. Een Zoeloe geestelike het van hierdie vertaling opgemerk: “Ek is so bekommerd om te sien Zoeloes dra hierdie Bybel wat presies niks sê nie.” ‘n Aanvaarbare nuwe vertaling van die Nuwe Testament in Zoeloe is sedert 1986 beskikbaar, maar sal ook met die huidige vertaling hersien word.

Die Bybelgenootskap poog met die nuwe vertaling om uit die staanspoor alle kerke te betrek. In Mei vanjaar was 40 kerkleiers, taalkenners, teoloë en die media in Durban byeen op ‘n seminaar, waar eenparig besluit is om ‘n span byeen te kry om met die nuwe vertaling aan te gaan.

“Dit was ‘n oorweldigende taak om uit 10 miljoen Zoeloes twee geskikte vertalers te kry. Ons sien die hand van die Here daarin dat Hy presies die regte mense gekies het in Dr. S. Sithole en mev. Queen Masonde - altwee met ‘n groot liefde en kennis van die Bybel en van suiwer Zoeloe. Hulle is vlug van begrip en het die vermoë om die betekenis van die oorspronklike teks in sy geheel te snap en in betekenisvolle, idiomatiese Zoeloe te herformuleer. Daarom kan hulle vinnig en deeglike werk.” Tydens sy destydse betrokkenheid by die Venda-vertaling was die gemiddelde vertaaltempo 25 verse per dag. Met die nuwe Zoeloe vertaling is die tempo gemiddeld 50 verse per dag. “Ons geniet elke sekonde daarvan en daar is by ons al drie ‘n dringendheid om die werk af te handel, sodat die Zoeloes ook ‘n verstaanbare Bybel kan hê.”

Hulle verwag dat die nuwe vertaling oor vyf jaar voltooi sal wees.

Die span beplan om Genesis 8 binne 6 weke te voltooi. Voorts beplan hulle om die moeilike poëtiese en profetiese boeke eers te doen “Sodat, as ek iets sou oorkom, die maklikste oorbly,” sê die 77 jarige teoloog. Hulle ontvang reeds geesdriftige positiewe terugvoer van Bybel- en taalkenners. “Dis duidelik dat die Here self sy hand op ons het,” sê hy.

Prof. Van Rooy sê die feit dat hy die afgelope 35 jaar by byna 20 soortgelyke projekte betrokke was, help omdat dit nie nodig is om al die navorsing van die grond af te doen nie.

Oor die vraag of hy iets van die Zoeloe taal verstaan, sê Prof van Rooy hy het met die oog op die aanleer van die taal tydens sy verlof in 1981 die voorreg gehad om vir 10 weke in te woon by ‘n gesin wat net Zoeloe gepraat het. Dit was tydens ‘n studie van die herlewing in Greytown. Vir die hele tydperk het hy ‘n totale blootstelling aan die taal gehad.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines