

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 October 2009
Die Soutpansberg se oudste oorlewende onderwyser, Oom Chris de Jager, word hierdie week 94 jaar oud.
Sy spore in die onderwys lê diep en wydverspreid oor die land, maar op Louis Trichardt en omgewing is dit sy gehoorsame, geesdriftige uitlewing van praktiese Christenskap wat vir hom ‘n spesiale plek in die harte van die gemeenskap laat inneem.
Ná sy graad en onderwysopleiding, onderskeidelik in Bloemfontein en Potchefstroom, het sy loopbaan in 1944 begin by die Hoërskool Piet Retief. Vandaar het hy vir etlike jare op aflos sy voortreflike diens by talle skole in die huidige Mpumalanga gelewer, voordat hy in die Soutpansberg hoof van die Vivo Laerskool geword het.
In 1968 het hy hom aangesluit by die destydse Bantoe-Onderwys, waar hy tot op 75 jaar nog onvermoeid sy waardevolle insette gelewer het.
Op dié gevorderde ouderdom waar die meeste mense alreeds lankal finaal afgeskaal en uitgetree het, het Oom Chris homself laat toerus vir dit wat hy as sy eintlike roeping beskou. Hy het deur ‘n Bybelskool ‘n sertifikaat verwerf in prediking en pastorale versorging en onmiddellik energiek aan die werk gespring as evangelis. Sy bediening het hom ondermeer na Polokwane, Levubu, Letsitele en Phalaborwa geneem, totdat hy duidelik geroep is vir diens in die plaaslike gevangenis op Louis Trichardt.
“Dìt was my werklike roeping,” sê Oom Chris met groot oortuiging.
Vir tien jaar lank het hy gereeld van sy plaas ingery om by die gevangenis die Evangelie te verkondig en die gevangenes in hul besondere nood geestelik by te staan en toe te rus.
Op 91 moes hy dié bediening by die gevangenis staak, “toe ek opgehou het om motor te bestuur.”
Maar dit was bloot die gevangenes by wie hy nie meer kon uitkom nie.
“Elke oggend vroeg het ons hier ‘n byeenkoms vir ons werkers op die plaas en ook vir dié van die buurplase. ‘n Diensie.”
Dié daaglikse vroegmôre byeenkoms vind plaas aan die voet van die verligte kruis wat saans aan die noordoostekant oor Louis Trichardt skyn. Die 24m-hoë verligte kruis is opgerig op grond wat Oom Chris vir dié doel beskikbaar gestel het. Dié kruis het reeds vir talle mense - inwoners en besoekers - ‘n spesiale landmerk en inspirasie geword – net soos Oom Chris se geseënde 94 jare.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
