ADVERTISEMENT:

 

“Hy moes alles gemastermind het,” sê Coetzer

 

News  Date: 09 October 2009

 

Ontstoke inwoners wat hul kaartjiegeld wil terugeis vir die gekanselleerde Gerhard Steyn-konsert op Louis Trichardt, moet liefs nie die organiseerder van die konsert, mev. Debbie Coetzer van Kick Ass Gigs, daaroor opskroef nie, maar eerder gaan soek vir ‘n baie geheimsinnige mnr. C. J. Brown. Altans, dit is wat Coetzer as verskoning voorhou.

Grootskaalse ongelukkigheid het by kaartjiekopers ontstaan, nadat Coetzer op 14 September Steyn se konsert gekanselleer het weens ‘n “gebrek aan belangstelling”. Steyn, bekende Suid-Afrikaanse sanger met die treffer Baby Tjoklits agter sy naam, sou volgens Coetzer op 26 September in die Ferdie Beyerssaal op Louis Trichardt optree “ten bate van liefdadigheid”. Kaartjies het verkoop teen R100 per volwassene en R50 per kind. Volgens Coetzer is slegs 90 kaartjies verkoop, alhoewel talle meen baie meer kaartjies is verkoop. Onder meer sou Ons Tuiste Ouetehuis ook baat uit die opbrengs van die konsert.

Ná die nuus dat die konsert gekanselleer is, was kaartjiekopers vinnig op Coetzer se spoor om hul geld terug te eis, maar tot op hede het Coetzer nog nie ‘n sent daarvan terugbetaal nie met wisselende verskonings. Haar verweer is dat sy alle gelde wat ontvang is aan ‘n baie geheimsinnige mnr. C. J. Brown oorbetaal het wat, volgens haar, intussen spoorloos verdwyn het en moontlik “land uit is”. Vir een ongelukkig kaartjiekoper het sy egter ‘n faks gestuur waarin sy sê dat sy die geld gebruik het om die R10 000 deposito vir Steyn se optrede en R2 500 deposito vir die Ferdie Beyerssaal te betaal, en dat sy die deposito’s verloor het omdat die konsert gekanselleer is.

Die Zoutpansberger het by ontvangs van laasgenoemde faks besluit om bietjie te gaan uitvind of Coetzer wel enige deposito’s betaal het.

In ‘n beëdigde verklaring wat ontvang is van me. Tilla Enslin van die Vonk-agentskap wat Steyn se bespreking hanteer, stel Enslin dit baie duidelik dat Coetzer geen deposito aan hulle betaal het nie. In die verklaring noem sy dat Coetzer op 9 Julie vanjaar met Vonk ‘n kontrak gesluit het vir die Gerhard Steyn-optrede hier en dat sy Coetzer verskeie kere geskakel het rakende die betaling van die deposito. Enslin het Coetzer onder meer aan die begin van September, op 11 September en weer op 14 September geskakel.

“... die 14de September het ek gesien dat geen deposito inbetaal is nie en het toe ‘n e-pos ontvang op 14 September waarin sy [Coetzer] sê dat sy die optrede kanselleer as gevolg van te min belangstelling want die mense in Louis Trichardt het nie kultuur nie,” lui Enslin se ver-klaring. Enslin sê dat sy in ‘n opvolg e-pos vir Coetzer geskryf het dat sy nie die konsert kan kanselleer nie, aangesien hulle ‘n kontrak gehad het.

“Sedertdien nog nie weer van haar gehoor nie,” sê Enslin in haar verklaring.

Die kerkkantoor van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente, wat die Ferdie Beyerssaal se besprekings hanteer, is ook genader om uit te vind of Coetzer enige deposito betaal het. Daar is bevestig dat Coetzer hulle genader het om die saal te bespreek, maar dat ook hulle geen depo-sito ontvang het nie.

Me. Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste Ouetehuis, wis ook nie veel van die gedoente nie, behalwe dat Coetzer ‘n paar maande gelede met haar daaroor gepraat het.

“Sy het my gebel so twee drie maande terug en vir my gevra of sy so ‘n konsert kan hou namens Ons Tuiste. Ek sê toe vir haar dat as jy so iets wil doen, dan loop jy die pad saam met my,” sê De Bruin. Sy het tydens hierdie gesprek aan Coetzer dit duidelik gestel dat “as jy enigsins in hierdie dorp gaan kollekteer, dan is dit met ‘n offisiële kollektevorm van Ons Tuiste wat ek geteken en genommer het. Volgens die kollektelys se nommers en dit wat jy ingebring het, gee ek vir jou ‘n kwitansie. As jy ons naam wil gebruik, moet jy ook eers ‘n deposito van ‘n R1 500 neersit voordat jy enigsins iets doen”. De Bruin sê dat sy ná hul gesprek nooit weer iets van Coetzer gehoor het nie, behalwe dat sy gesien het die plakkate wat aangebring is meld slegs dat die konsert ten bate van liefdadigheid is.

Gewapen met dié inligting is daar besluit om Coetzer, wat intussen uit Louis Trichardt na Polokwane verhuis het, te skakel vir kommentaar. Nog voor daar aan haar verduidelik kon word presies waaroor die medianavraag gaan, het Coetzer gesê dat sy ‘n e-pos aan die Zoutpans-berger sal stuur.

Kort daarna is ‘n e-pos van Coetzer ontvang waarin sy sê dat sy nie verantwoordelik gehou kan word vir die geld nie, aangesien sy bloot as agent opgetree het vir ‘n ene mnr. C. J. Brown aan wie Kick Ass Gigs, volgens haar, behoort. Hierdie inligting was egter nooit voorheen bekend nie en slegs haar naam, e-pos adres en telefoonnommer verskyn op alle dokumentasie van Kick Ass Gigs.

“Hy het laat ek die kontrak teken en als met Gerhard Steyn (reël) en nou kan jy vir jouself dink watse chaos daar is omdat my nommers op die kaartjies was en ek die enigste kontakpersoon was. Alle gelde wat aan my oorbetaal was, was na sy rekening toe getransfer, want hy moes almal betaal, asook die sanger. Toe ek weer hoor, is die ou sak en pak weg,” sê Coetzer in haar e-pos. Sy noem ook dat Kick Ass Gigs intussen insolvent verklaar is en dat die saak aan ‘n prokureur oorhandig is om uit te sorteer.

“Ek het maar net die ou uitgehelp vir ‘n bietjie ekstra geld en toe verdwyn hy en ek sit met die gemors ... Hy moes als gemastermind het,” lui Coetzer se e-pos.

Weer het die Zoutpansberger bietjie gaan krap en kon geen bewys vind dat ‘n geregistreerde onderneming soos Kick Ass Gigs ooit bestaan het nie. Daar is wel ‘n Kick Ass Rock Concert and Production-maatskappy in Pretoria.

‘n Opvolg e-pos is van die Zoutpansberger aan Coetzer gestuur waarin dit genoem word dat haar e-pos en verduideliking meer vrae laat ontstaan as wat dit antwoorde verskaf. Sy is gevra om te reageer op die faks wat sy gestuur het waarin sy sê dat sy (en nie die geheimsinnige mnr. Brown nie) die deposito’s betaal het, aangesien nie een van die betrokke partye kennis dra van ‘n mnr. Brown nie. Sy is ook gevra om meer besonderhede van mnr. Brown te verskaf soos waar sy kantore was en sy bankbesonderhede (aangesien sy sê sy het die geld aan hom oorbetaal), sodat daar gepoog kan word om sy bestaan vas te stel.

In antwoord hierop het Coetzer Woensdag weer ‘n e-pos gestuur waarin sy sê dat sy alle gelde aan mnr. Brown oorhandig of oorbetaal het en dat hy haar meegedeel dat hy die sanger, kerksaal ensovoorts se deposito’s sal betaal.

“Ek het sy woord aanvaar vir al die dinge en het nooit daaraan gedink om dit te double check met Gerhard Steyn se agente of met die NG Kerk vir die saal nie om seker te maak dat die deposito’s en gelde wel betaal was nie ... Moes seker van beter geweet het,” sê Coetzer. Haar antwoord is egter strydig met die beëdigde verklaring van Enslin wat sê sy moes herhaaldelik Coetzer self skakel rakende die betaling van die deposito. Volgens hierdie verklaring was Coetzer tot op die dag wat sy die konsert gekanselleer het, daarvan bewus dat die deposito nog nie betaal is nie. Coetzer was ook die enigste een wat geskakel het met die NG Kerk se kerkkantoor oor die betaling van die saal se deposito.

Wat betref die geheimsinnige mnr. Brown, lees Coetzer se verduideliking soos ‘n spioenasieverhaal.

“Die ou het op ‘n stadium genoem dat hy van Pretoria af kom. Hy was seker voorheen in diens van die Kick Ass Rock Concert and Productions Company in Pretoria, die dat hy die naam gebruik het en onder die naam geoperate het ...” skryf Coetzer in haar e-pos.

Oor mnr. Brown se bankbesonderhede skryf Coetzer dat sy reeds uitgevind het by iemand wat by die bank werk dat hy sy rekening ge-sluit het by ABSA.

“Dis hoekom ek sê ek het die idee die ou is land uit ...” sê Coetzer.

Oor ‘n moontlik adres vanwaar mnr. Brown Kick Ass Gigs bedryf het, kon Coetzer ook van geen hulp wees nie.

“Ek het hom by Savannah gekry,” skryf Coetzer. Later in haar e-pos sê sy dat mnr. Brown ‘n wit Opel Kadet gery het en dat sy uitgevind het dat “hy ‘n kantoor het somewhere by ‘n OK sentrum” maar dat sy nie weet of dit nog bestaan nie.

“Ek is net so onskuldig in die hele ding en in die donker oor dit soos al die ander mense. Daar is vrae wat ek self nie die antwoorde op ken nie. Hy [mnr. Brown] is die enigste persoon wat lig op hierdie situasie kan bring en die ou het spoorloos verdwyn,” skryf Coetzer in haar e-pos.

Ongeag dat Coetzer sê dat sy nie verantwoordelik is vir die vermiste geld nie, maar eerder mnr. Brown wat soos ‘n kopspeld in ‘n hooimied verdwyn het, is daar intussen begin met siviele regsaksie teen Coetzer.

“Ons gaan nou maar met die normale invorderingsprosedure begin en ‘n dagvaarding uitreik en kyk wat maak sy. Sy [Coetzer] het ‘n wanvoorstelling gepleeg. Sy het vir die mense gesê daar gaan ‘n konsert wees, sy het kaartjies verkoop en soos ek verstaan, was daar nog nie eers ‘n saal bespreek of ‘n deposito betaal om die ou [Steyn] te bespreek nie. Sy het dan ‘n plig om die mense weer te vergoed,” was me. Steffie van der Westhuizen van Van Der Westhuizen Prokureurs op Louis Trichardt se kommentaar. Persone wat ook geld verloor het en dit graag wil terugkry, is welkom om haar te skakel.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines