ADVERTISEMENT:

 

Die wrak van die Volkswagen Polo waarin mev. Roode gereis het. By die voertuig staan haar skoonseun, mnr. Paul du Plessis. “Was dit nie vir die kar se lugsakke nie, was my skoonma dood,” het Du Plessis na die ongeluk gesê.

Tydelike verlies van bewussyn kos vrou byna haar lewe

 

News  Date: 09 October 2009

 

‘n Tydelike verlies van haar bewussyn het Saterdagoggend byna noodlottige gevolge ingehou vir die 66-jarige mev. Sue Roode van Louis Trichardt.

Roode, ma van mev. Mona du Plessis van die Ultimate Gastehuis op die Bluegumspoort-pad, was Saterdagoggend met haar Volkswagen Polo onderweg na Pretoria vir ‘n doktersafspraak. Haar man, mnr. Carel Roode, sou saamgery het, maar het besluit om weens ongesteldheid tuis te bly.

Digby die Kranskop Tolplaza het Roode tydelik haar bewussyn verloor. Toe sy bykom, was sy in die baan vir aankomende verkeer. Sy het probeer uitswaai, maar dit was te laat en sy het semi-trompop met ‘n vragmotor gebots. Die ongeluk het omstreeks 07:30 plaasgevind.

Lede van die metropolisie en paramedici was vinnig op die toneel en Roode is na ‘n privaathospitaal op Bela-Bela geneem vir behandeling. Sy is Maandag reeds ontslaan.

“Was dit nie vir die kar se lugsakke nie, was sy dood. Sy is eintlik nie baie erg beseer nie, veral as ‘n mens kyk na hoe die kar lyk,” het haar skoonseun, mnr. Paul du Plessis, Woensdag gesê.

Die geweld van die impak was so erg dat Roode se voertuigenjin en ratkas uitgeruk is en meer as 50m vanaf die wrak te lande gekom het. Die passasierskant van haar voertuig het meeste van die impak geabsorbeer.

“Dinge gebeur nie sonder rede nie. Sou my skoonpa besluit het om daardie oggend saam te ry, was hy sekerlik dood,” het Du Plessis gesê.

Roode herstel tans tuis.

“Sy kan opstaan en loop, maar is steeds baie seer,” sê Du Plessis. Hy sê dokters vermoed dat sy skoonma ‘n ligte beroerte gehad het terwyl sy bestuur het, wat gely het tot die tydelik verlies van haar bewussyn.

Die Roode-egpaar het sowat ses jaar gelede vanaf Zimbabwe na Louis Trichardt verhuis en hulle by hul kinders kom vestig. Du Plessis het sy dank uitgespreek teenoor die metropolisie en paramedici vir hul flinke en professionele optrede.

“My ma het al haar persoonlik besittings teruggekry, insluitend R8 000 in kontant wat sy in die voertuig gehad het,” sê Du Plessis.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines