

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 October 2009
Die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle op 19 Februarie vanjaar die 78-jarige mev. Tienie Botha vermoor het, het verlede Vrydag weer in die hof op Louis Trichardt verskyn.
Tydens die vier se vorige hofverskyning op 2 Oktober is die saak uitgestel, nadat hul prokureur vir bykans twee weke siek was. Die vier se saak is weereens uitgestel tot later vandeesmaand, in afwagting vir die aanklaer om die keer terug te keer van siekeverlof.
Een van die vyf verdagtes, die 36-jarige Manuel Zitha, is einde Junie in die Elim Hospitaal oorlede. Daar is ‘n geregtelike ondersoek na sy dood geopen.
Die vier staan tereg op een klag van moord, een klag van gewapende roof en twee klagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Daar is ook sprake dat die mans vroeër vanjaar ‘n vrou en haar skoonsuster by hul huis in Andersonstraat aangerand en beroof het.
Daar is intussen sprake dat die Direkteur van Openbare Vervolging sedert Februarie steeds nie in kennis gestel is van die vier se dossier nie. Dit het gevolg dat daar nog nie beslis kon word of die vier mans vervolg sal word nie, en indien wel, in watter hof hulle vervolg sal word.
Die vier verdagtes, David Lihaiwa (29), Rudzani Mufamadi (29), Thobili Jili (26) en Thomas Ramudzuli (40), is steeds in aanhouding in afwagting op hul volgende hofverskyning op 14 Oktober. Die mans se borgaansoek sal dan na verwagting afgehandel word.

ADVERTISEMENT:
