ADVERTISEMENT:

 

Kobus Nel van Fruit & Veg City se slaghuis op Louis Trichardt met die sertifikaat wat hy gekry het nadat sy My Champ-boerewors algeheel vyfde geëindig het in die landswye Shoprite/Checkers-boereworskompetisie.

Kobus se boerewors skiet net te kort in finaal

 

News  Date: 09 October 2009

 

Kobus Nel, blokman en slagter by Fruit & Veg City op Louis Trichardt, kon net-net nie daarin slaag om een van die top drie plekke te haal in die gewilde Shoprite/Checkers-boereworskompetisie nie.

Die 2009 Boereworskampioen is die afgelope naweek tydens ‘n opwindende uitkloprondte by Sun City aangewys. Die kompetisie, wat nou in sy 17de bestaansjaar is, was nog net so gewild soos altyd.

Meer as ‘n 1 000 van Suid-Afrika se top worsmakers het hul braaitange uitgehaal en aan 87 streekskompetisies deelgeneem sedert Augustus. Kobus se My Champ-boerewors het algeheel vyfde geëindig uit die meer as ‘n 1 000 inskrywings van regoor die land. Hy is ook as die top boereworsmaker in die Limpopo aangewys.

Kobus moes na ‘n lang dag van beoordeling uiteindelik die aftog blaas vir ‘n huisvrou van Kuruman. Elizabeth Lesley wat met die gesogte kroon huistoe gegaan het. Die tweede en derde plekke het gegaan aan Annetjie Fourie en Bennie Nothnagel.

“Die beoordeling was moeilik gewees. Hulle het eers die rou wors beoordeel, voordat deelnemers kon begin om hul wors te braai,” vertel Kobus. Hy is egter vuur en vlam om weer volgende jaar deel te neem en is reeds besig om sy wenresep te verbeter.

Volgens Kobus lê die geheim daarin om net die regte kombinasie van speserye te gebruik.

“Die dag was nog steeds ‘n belewenis gewees en ek kan nie wag vir volgende jaar nie,” het Kobus gesê.

“Ek het al weer begin om wors te maak en met die kruie begin eksperimenteer.”

Inwoners hoef egter nie bekommerd te wees nie, want Kobus se My Champ-wors sal nog steeds by Fruit & Veg City te koop wees. Hy het weereens sy dank uitgespreek teenoor al die slaghuis se getroue kliënte, asook vir almal se gereelde oproepe, ondersteuning en raad.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines