

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 October 2009
Die Soutpansberg Sakekamer het Dinsdagaand tydens ‘n vergadering besluit dat hulle meer inligting nodig het, voordat hulle as kamer ‘n amptelike standpunt inneem vir of teen die omstrede beoogde mynbou-ontwikkelings in die streek.
Sakekamerlede het die geleentheid benut om vir of teen die mynbou-aktiwiteite in die streek te betoog. Daar is genoem dat Coal of Africa se Vele-steenkoolprojek se impakstudie al beskikbaar is. Die Vele-projek is 48km wes van Musina en naby die Mapungupbwe Nasionale Park – ‘n nasionale erfenisgebied. Die Mulilo-kragstasie vorm ook deel van hierdie projek van die Australiese mynmaatskappy, Coal of Africa.
Ander ontwikkelings sluit in ‘n steenkoolmyn naby Waterpoort (Rio Tinto-mynmaatskappy) met ‘n moontlike kragstasie en Coal of Africa se steenkoolmyn by Mudimeli in die Nzhelelevallei, noord van Louis Trichardt.
Mnr. Leon Klaff het voorgestel dat die Sakekamer as ‘n belangeparty of geaffekteerde party registreer. Hy is 100% ten gunste van die ontwikkeling, solank as wat dit nie die nageslag se lewe negatief beïnvloed nie en op voorwaarde dat navorsing gedoen word oor hoe om probleme wat uit die mynbou voortspruit, te bekamp. Hy het voorgestel dat die mynreuse die verlangde navorsing finansier.
Mnr. Gerhard Maré het gesê dat hy ‘n geregistreerde geaffekteerde party by die Mudimeli-myn is, maar dat geen van sy navrae beantwoord word of enige inligting aan hom beskikbaar gestel word nie.
Mnr. André Naudé het hom teen die mynontwikkelings uitgespreek en gewaarsku dat die water versuur en besmet gaan word en dat die streek na veertig jaar onrehabiliteerbaar gaan wees. Hy het gesê dat die 758 werksgeleenthede wat geskep gaan word niks is teenoor die duisende werksgeleenthede wat boere skep en wat op die lang duur gaan verdwyn nie. Hy het gesê dat die Staat gemobiliseer moet word om te weier om die mynaktiwiteite toe te laat.
Me. Jana Smith het gesê dat die myn inkomste kan genereer vir die sakesektor.
“Die klip is alreeds aan die rol, die stootskrapers is daar en die verskaffers is op pad. Wat ons wil doen, moet ons vinnig doen.”
Die voorsitter van die sakekamer, me. Natasha Mostert, sê dat Coal of Africa verteenwoordigers gesê het dat hulle met BEE-maatskappye werk en dat sodanige maatskappye vir die doel gevorm kan word. Die lewensduur van die myn is 28 jaar. Sy het die vraag gestel of die finansiële voordele goed gaan opweeg teen die moontlike langtermyn nadelige gevolge.
Mnr. Vaughan van Niekerk het die sakesektor gevra of hulle geleenthede wat na hulle kant toe kom, gaan wegwys. Hy sê dat dieselfde argumente geopper was met die koms van die lugmagbasis en die maksimum gevangenis en vandag trek die sakesektor die voordeel.
Mnr. Jacques Greyling het gesê dat die ontwikkeling nie gekeer sal kan word nie.
“Ons gaan hulle nie stop nie, kom ons spits ons energie daarop toe om te kyk dat hulle dit reg doen. Kom ons forseer hulle om dit so reg as moontlik te doen en hulle geld te gebruik om die moontlike skade te beperk.”
Die voorstel dat areas geïdentifiseer moet word waar mynbou glad nie ondersteun kan word nie, is deur mnr. Schalk Corbett geopper.
“Dit is sinneloos om vir of teen die ontwikkeling te stem as ons nie genoeg feite het nie.”
“Water is ‘n baie belangrike saak wat ondersoek moet word en die mynmaatskappye moet die wetenskaplikes betaal vir die navorsing,” het mnr. Martin Kennealy gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
