ADVERTISEMENT:

 

Swaar vonnis na "rassistiese" transitoroof

 

News  Date: 26 March 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Lid van 'n swaar gewapende bende wat aan 'n rassisties- gemotiveerde transito rooftog deelgeneem het, is hier tot 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Leonard Rolani Chamani (38) is voor landdros Stiaan Gericke hier in die Streekhof skuldig bevind op verskeie aanklagte van gewapende roof en twee aanklagte van poging tot moord. Op die klagtes van roof is hy tot 20 jaar en op die klagtes van poging tot moord tot 15 jaar gevonnis.

Chamani is ook in 1992 tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis weens roof. Hy het verlede week tydens die finale stadium van die verhoor skielik sy regsverteenwoordiger ontslaan en aangekondig dat hy self sy saak verder sal behartig. Die uitval met sy regsverteenwoordiger het gekom toe hy gevra is om te verduidelik hoe sy vingerafdrukke in die roofvoertuig gekom het.

Volgens getuienis wat in die hof aangehoor is, het die bendeleier opdrag gegee dat alle witmense vermoor en hul eiendom afgevat moet word, tydens die transitorooftog op 25 Maart verlede jaar op die pad tussen Munnik en Duiwelskloof. Benewens 'n leë gepantserde voertuig van Fidelity Guards is verskeie private passasiersvoertuie ook die dag voorgekeer en mense rondgepluk en beroof. Twee veiligheidswagte is in die rooftog ernstig beseer en was volgens die mediese getuienis gelukkig om met hul lewens daarvan af te kom.

Landdros Gericke het die rooftog as absoluut lafhartig beskryf. Hy het gesê die hele operasie was opvallend goed beplan. Hulle het tot 'n sny-apparaat byderhand gehad om 'n ingeboude kluis in die gepantserde voertuig oop te sny. Die swaar-gewapende bende het van groot kaliber outomatiese wapens gebruik gemaak. Al die slagoffers het vir hul lewens gevrees. Die bendeleier se opdrag, dat alle witmense doodgeskiet moet word, is gefnuik toe 'n private voertuig deur die rowers se padblokkade gebreek en weggejaag het. Dit het klaarblyklik hul planne omver gegooi en die rowers het haastig gevlug.

"Dit is duidelik dat die bende van die krag van vuurwapens gebruik gemaak het om hul doel te bereik. Dit is 'n teken van absolute lafhartigheid," het Gericke gesê.

Chamani se vingerafdrukke is gevind op sakke in die kattebak van 'n luukse voertuig waarmee die rooftog begin is. Hy kon nie verduidelik hoe dit daar gekom het nie.

In sy pleidooi om versagting het Chamani aangevoer dat hy die enigste broodwinner is van sy gesin. Hy het foto's van sy vier kinders van 18, 15, nege en een jaar oud aan die hof getoon. Landdros Gericke het as versagting gereël dat die sewe roofklagtes saamgevoeg word vir vonnisdoeleindes, aangesien dit deel van een insident was.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines