ADVERTISEMENT:

 

Afgeneem tydens die Soutpansberg Sakekamer se vergadering Dinsdagaand is, van links, mnr. Stephen Hoffman (DLU), prof. Van der Waal, me. Jana Smith (sakekamer) en me. Natasha Mostert (president van die Soutpansberg Sakekamer).

Professor sê myne hou gevaar in vir streek se water

 

News  Date: 09 October 2009

 

Die streek se skaarste aan water is hierdie week uitgelig deur professor Ben van der Waal van die Universiteit van Venda.

“Ons gaan nou weer ‘n droë tyd in. Ons was die afgelope ruk bederf met baie water en vloede. Die Albasinidam gaan leeg wees en moet dan volgepomp word vanuit die Nandonidam as die pypleiding klaar is. Noord van die berg is toestande baie meer onseker,” het prof. Van der Waal op 6 Oktober gesê tydens ’n vergadering van die Soutpansberg Sakekamer oor die beoogde mynboubedrywighede in die area.

Hy het die skaarste van water in die streek genoem as deel van sy aanbieding oor die effek van mynbou op die waterbronne. Steenkoolontginning en ‘n kragstasie, soos beplan in die Waterpoort-streek, is alles aktiwiteite wat ‘n waterbehoefte skep.

“Kan ons die mynaktiwiteit en sekondêre mynaktiwiteit, die kragstasie, akkommodeer met ons beperkte water?” het prof. Van der Waal gevra.

Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ‘n behoefte is aan volledige geologiese-, hidrologiese- en mynbouverslae om die voor- en nadele te kan uitwys.

Van der Waal het verskillende sake aangeroer in sy onderwerp van hoe mynbou die water in die streek sal affekteer. Van die interessanthede wat hy genoem het is dat die argument is dat steenkool benodig word om krag op te wek, maar dit is nie ‘n strategiese noodsaak nie. Slegs 5% van die land se steenkoolreserwes is genoeg vir die energieverbruik vir vyftien jaar, het Van der Waal gesê. Hy het ook die vraag gevra hoe ‘n land soos Suid-Afrika ooreenkomste met lande kan teken om die uitlaat van koolsuurgas te verminder, maar aanhou om nuwe steenkoolvelde te open? Verder sê Van der Waal dat rehabilitering in Suid-Afrika ongelukkig nie ‘n goeie geskiedenis het nie. In die lig hiervan het hy genoem dat alle water van die Vhembe-biosfeer dreineer noord na die Limpoporivier. Derhalwe, het hy gesê sal waterbesoedeling nie net ‘n nasionale implikasie hê nie, maar ook internasionaal.

“Ons waterstelsel is baie ingewikkeld. Met mynaktiwiteite is daar ‘n risiko dat ons water geaffekteer kan word,” het Van der Waal gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines