ADVERTISEMENT:

 

Besware op beoogde Musina-uitbreiding

 

News  Date: 09 October 2009

 

Kommer en ernstige bedenkinge oor die beoogde grootskaalse residensiële uitbreidings op Musina is uitgespreek deur verskeie belanghebbendes.

Op ‘n vergadering van belanghebbendes wat verlede week gehou is, is besware aangehoor deur die onderneming wat verantwoordelik sal wees vir die omgewingsimpakstudie met die oog op die vestiging van Musina Uitbreiding 20 en 21 en aanverwante infrastruktuur. Die ontwikkeling maak voorsiening vir 1 000 woonerwe noord van die Pontdrifpad, teenoor die Nancefield-woonbuurt.

Besware is ontvang van verskeie gasteplase wat eko-vriendelike oornaggeriewe langs die Pontdrifpad buite Musina bedryf.

Die wenslikheid van grootskaalse nuwe uitbreidings word bevraagteken te midde van die munisipaliteit se skynbare onvermoë om aan die bestaande ontwikkeling bevredigende dienste te lewer.

Die ontoereikende toestand van die padnetwerk in en om die dorp, met gevolglike verkeersopeenhopings, is as ‘n verdere rede aangevoer waarom grootskaalse nuwe uitbreidings nie wenslik of haalbaar is nie.

Die belanghebbendes het eweneens kommer uitgespreek oor die reeds onaanvaarbare vlakke van diefstal, onwettige jag en saakbeskadiging wat op plase in die omgewing ondervind word. Hulle vrees dat misdaad net kan toe-neem met die vestiging van 1 000 bykomende gesinne in die omtrek.

Besoedeling, geraas en steurende ligte wat met so ‘n uitbreiding gepaard gaan, is nog ‘n bron van kommer en beswaar. Die belanghebbendes is veral bekommerd oor die nadelige uitwerking wat dit op die toerismebedryf in die omgewing kan hê, wanneer die natuur en biodiversiteit vernietig word om plek te maak vir sulke grootskaalse uitbreiding.

‘n Woordvoerder van die onderneming wat die impakstudie moet behartig, het die kommer en vrese behandel en belanghebbendes die versekering gegee dat al die besware noukeurig opgeweeg sal word tydens die omvattende ondersoek.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines