

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 October 2009
Die polisie op Louis Trichardt is bekommerd oor die skerp toename in diefstal vanuit motorvoertuie die afgelope weke.
Dit volg nadat twee voorvalle kort na mekaar Maandag aangemeld is.
Mnr. Rudolph de Villiers was die eerste slagoffer. Hy het Maandag, op pad na sy werk toe, vinnig by die OK Grocer in Boababstraat gestop. Hy was skaars vyf minute binne die winkel en is met sy terugkeer begroet deur ‘n uitgeslaande ruit. Sy ergste vrese is bewaarheid, toe hy agterkom ‘n groot bedrag geld en sy skootrekenaar word vermis.
Dit wil ook blyk dat die rampokkers koud gekry het, want hulle het een van De Villiers se truie wat bo-oor die kontant gelê het gesteel.
Kort hierna is mev. Mariaan Rademeyer se handsak uit haar bakkie gesteel reg voor Ons Tuiste Ouetehuis. Rademeyer het by haar moeder gekuier in die siekeboeg, toe die sekuriteitswag haar kom meedeel dat iemand haar bakkie se ruit uitgeslaan het.
Volgens die wag, het hy gehoor hoe iemand die ruit uitslaan en met nadere ondersoek het hy gesien hoe ‘n man met haar handsak in ‘n wagtende motor klim en wegjaag in Eltivillas se rigting.
“Van alles wat hulle kon steel, moes hulle net my handsak vat,” het ‘n ontstoke Rademeyer gesê.
Sy sal nou deur die beslommernis moet gaan om aansoek te doen vir ‘n nuwe rybewys, identiteitsboekie en boonop al haar bankkaarte moet vervang. Die rowers het ook met ‘n klein bedrag kontant weggekom.
“Ek huil sommer as ek dink ek moet aansoek gaan doen vir ‘n nuwe rybewys,” het sy gesê.
Polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadike het bevestig dat daar nog geen arrestasies gemaak is nie. Enige iemand met inligting kan die ondersoekbeampte skakel by 082 319 9638.
Hy het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om onder geen omstandighede enige waardevolle items in hulle motors te los nie.

ADVERTISEMENT:
