

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 October 2009
‘n Bejaarde egpaar wie se onderneming staatmaak op internet-toegang, is nou raadop met die gesukkel om deur middel van hul modem in te skakel op die internet.
“Vodacom sê elke keer dat ek net geduld moet behou, maar my geduld is nou op,” sê tannie Barendine Nel (72). Sy en oom WAS Nel (79) bedryf ‘n gastehuis, Aandgloed, 6km oos van Louis Trichardt, asook ander besighede wat sterk op e-pos verbinding steun.
Die Nels sukkel om verbinding te kry, sodat hulle hul e-posse kan inkry en uitstuur. Hulle gastehuis, ‘n groot kliphuis wat die Nels eiehandig gebou het, word deur ‘n webwerf bekendgestel en voorlopige besprekings word gemaak. Daar moet dan per e-pos geantwoord word om die besprekings te finaliseer. Oom WAS bedryf ook onder andere U Care, ‘n fonds vir barmhartigheid en dryf handel met Stemtech, ‘n gesondheidsproduk. Die ondernemings kan nie funksioneer sonder e-pos verbinding nie. Hulle het ook ‘n seun in die sending wie se nuusbriewe hulle per e-pos uitstuur.
Soms kry die egpaar dit reg om vir ‘n kort rukkie op die internet in te skakel, maar dan is dit in die middel van die nag. Hulle het ook geen geluk oor naweke of skoolvakansies nie. Vanaf 14 September was netwerkverbinding meestal net onmoontlik. Die swak of afwesige sein is ook vir die gaste ongerieflik.
Intussen skakel tannie Barendine kort-kort om die probleem aan te meld of om te sê dat die probleem nog nie opgelos is nie.
“Die ure wat jy moet insit om die probleem te probeer oplos en die ure wat jy in die nag voor die rekenaar sit en sukkel ... ek het nie die tyd om so aanmekaar voor die ding te sit nie. Dit behoort mos net te vloei,” sê tannie Barendine.
Die Nels was ‘n keer Polokwane toe en daar het hulle geen probleme ondervind nie. Volgens die Nels gee Vodacom gereeld terugvoer deur middel van SMS’e of telefoonoproepe en hulle sou ook al iemand uitgestuur het.
By navraag het Me. Nicolene Visser, Vodacom woordvoerder en uitvoerende hoof van korporatiewe kommunikasie, op 2 Oktober bevestig dat Vodacom steeds besig is met die klagte van mnr. Nel.
“Ons netwerkspan van die streek is besig om ondersoek in te stel. Mnr. Nel is in kennis gestel van die proses en ons sal met hom in kontak bly totdat die probleem opgelos is,” sê Visser.
Dit is al ‘n paar jaar dat die egpaar die normale huiwerigheid van hul ouderdomsgroep teenoor die rekenaar oorkom het en die moderne tegnologie inspan om besigheid te genereer.
“Voorverlede jaar was daar ook so baie probleme met die verbinding. Verlede jaar was dit beter en nou is dit weer ‘n groot probleem,” sê die Nels.
Me. Irene Jonker van ‘n plaaslike rekenaarmaatskappy, 5J Technology, sê dat verskeie persone by hulle kom kla het met dieselfde probleem dat die sein nie sterk genoeg is sodat hulle internetverbinding kan kry nie.
“Die klaers woon meestal in die nuwe uitbreiding, oos van die N1, waar daar nie op hierdie stadium ‘n goeie konstante sein is nie. Dit wil voorkom of daar ‘n probleem is by die een Vodacom-toring. Party mense ry na die ander toring in die industriële gebied om te kyk of hulle daar kan sein kry,” sê Jonker.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
