ADVERTISEMENT:

 

Die verskillende gemeenskappe van Levubu het op 7 Oktober in groot getalle na die Levubu-polisiestasie opgeruk om hulle misnoeë te kenne te gee oor die stukkende brug oor die Lutanandwarivier. Die aksie is gesamentlik geloods deur die boerevereniging, die polisiediens, die gemeenskapspolisiëringsforum, die Demokratiese Alliansie en die gemeenskappe. Foto verskaf.

Gemeenskappe maak stemme dik oor stukkende brug

 

News  Date: 16 October 2009

 

Die verskillende gemeenskappe van Levubu het verlede Woensdag (7de) in groot getalle opgeruk na hul plaaslike polisiestasie om hulle misnoeë te kenne te gee oor die feit dat die ineengestorte brug oor die Lutanandwarivier na amper ‘n jaar nog steeds nie herstel is nie.

Die brug oor die Lutanandwa, op die hoofroete tussen Louis Trichardt en Thohoyandou, het in November verlede jaar inmekaar gestort. Daar is bevind dat die brug skynbaar ineengestort het vanweë skade wat reeds tydens 2000 se vloede daaraan aangerig is. Die skade het ongesiens gebly, skynbaar omdat gereelde inspeksies nie plaasgevind het nie. Na amper ‘n jaar word verkeer steeds geforseer om van ‘n ompad van ongeveer 25km deur Levubu, die P98/1-pad, gebruik te maak.

“Die grootste probleem is dat hierdie pad nie gebou is om die massiewe volume verkeer en swaarvoertuie te dra wat daagliks die pad gebruik nie. Daar is orals slaggate en dis onveilig vir trekkers en arbeiders wat op fietse ry. Padongelukke is ‘n weeklikse verskynsel,” was die kommentaar van mnr. Werner Muller, voorsitter van TLU SA Levubu. Ander sosiale en ekonomiese probleme vloei ook voort uit die geweldige toename in padgebruikers. Misdaad het met dubbelsyfers toegeneem en die vuilis hoop langs die paaie van Levubu op.

In die middel van hierdie jaar het die LUK van Vervoer, me. Pinky Kekana, in haar begrotingstoespraak aangekondig dat die herstel van die brug oor die Lutanandwa in die begroting is en dat R43 miljoen begroot is vir die konstruksie van die Lutanandwabrug en brug oor die Witlaagtepad. Die tenderproses het op 5 Augustus gesluit. Dringende briewe is aan Kekana en aan die Limpopo-padagenstskap gerig om bevestiging te kry oor wanneer daar met die konstruksie van die brug begin sal word. Die padagentskap het egter in ‘n brief gedateer 21 September gesê dat die tenderproses opgeskort is voor die sluitingsdatum. Geen terugvoer kon gekry word oor die rede hiervoor nie.

Die gemeenskap is nou moeg gewag vir die provinsiale regering en padagenstkap om die brug te herstel. Dit het gelei tot verlede week se gesamentlike aksie deur die boerevereniging, die polisiediens, die gemeenskapspolisiëringsforum, die Demokratiese Alliansie en die gemeenskappe. Tydens dié aksie is daar duidelik gehoor waarom gemeenskappe nou sake in eie hande begin neem. Die moontlikheid van ‘n burgerlike tolpad is ook genoem. Die tolhek sal opgerig word om te kompenseer vir die verliese en om die ompad deur Levubu in ‘n goeie toestand te hou.

Na die byeenkoms by die Levubu-polisiestasie is daar opgedeel in spanne en is die rommel op die paaie van Levubu op georganiseerde wyse skoongemaak. Die aksie, wat deur sowat 280 persone ondersteun is, het gepaardgegaan met wye mediadekking, insluitende televisiedekking.

“Ons het die boodskap duidelik gemaak waarom Levubu so vol rommel is. Die rede is die brug wat nie reggemaak is nie en wat dan swaar verkeer deur Levubu se paaie stuur. Maak tog net die vervlakste brug reg!” het Muller gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines