

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 October 2009
Skaar was verlede week se Zoutpansberger op straat, of die dreigemente teenoor die koerant het begin instroom van me. Debbie Coetzer oor wie daar op die voorblad berig is.
Die artikel het gehandel oor die herrie wat ontstaan het rondom die vermiste geld uit kaartjieverkope ten opsigte van die gekanselleerde Gerhard Steyn-konsert in September. Coetzer het die konsert bemark en al die kaartjieverkope hanteer, maar toe sy deur kaartjiekopers gevra is om hul geld terug te gee, het sy beweer dat sy bloot as agent opgetree het vir die maatskappy wat die konsert gereël het, Kick Ass Gigs, en dat ‘n ene mnr. C. J. Brown vort is met al die geld.
In korrespondensie wat deur Coetzer aan die Zoutpansberger in aanloop tot die plasing van die artikel gestuur is, het sy gesê dat sy geen verantwoordelikheid vir die vermiste geld aanvaar nie, dat sy ook deur die ene mnr. C. J. Brown vir ‘n ride gevat is en dat dié mnr. Brown intussen verdwyn het. Van haar verduidelikings het egter nie met mekaar gestrook nie, beide dit wat sy aan die Zoutpansberger gestuur het en geskrewe korrespondensie wat sy met van die kaartjiekopers vooraf gehad het. Dit het die vraag laat ontstaan of mnr. C. J. Brown wel bestaan. Daar is ook in die artikel gemeld dat ‘n plaaslike prokureursfirma reeds begin het met siviele aksie teen Coetzer, en nie teen mnr. Brown nie, om van die geld te probeer herwin. Coetzer het intussen van Louis Trichardt na Polokwane verhuis waar sy werk aanvaar het by ‘n bekende nasionale maatskappy.
In haar eerste e-pos aan die Zoutpansberger verlede Donderdagoggend, gerig aan die joernalis wat die artikel geskryf het, skryf Coetzer onder meer: “Watse nonsens het jy in die koerant gaan sit? Ons company prokureur gaan later ‘n brief vir jou baas deurstuur dat as daar nie ‘n formele ver-skoning in die koerant is volgende week oor jou voorblad artikel nie, ons julle gaan dagvaar vir naamskending, en dat ek carte blanche toe gaan gaan met die storie en dit in die rapport/Sunday times publiseer dat die zoutpansberger valse informasie publiseer en dat julle oneties optree, en dat ons julle gaan rapporteer by die Community Press, van openbare publikasies en nuus, dat julle oneties optree en valse artikels publiseer – julle net skryf wat julle wil, sonder dat jy jou feite agtermekaar gekry het (sic).” In dieselfde e-pos het sy die koerant tot 17:00 daardie dag gegee om verskoning aan te bied.
Kort daarna het Coetzer weer ‘n e-pos gestuur wat gelees het: “O ja. Ek het slegs vir die plek tydelik gewerk man. Wat is jou probleem? As die Zoutnet k*k aanjaag en so iets aanvang, gaan hulle jou aanspreeklik hou vir die company se k*k? Word groot ok. Net soos wat jy my nie vals kan beskuldig vir nonsens wat Kick Ass Gigs aangejaag het nie. Jy het tot vanmiddag 17h00 om te reply en my ‘n skriftelike omverskoning te stuur of die hel is los. Verstaan jy vir my mooi. Wie dink jy is jy om sulke snert kwyt te raak. Sal ‘n siviele saak teen jou en die koerant oopmaak vir naamskending en lastering (sic).”
Coetzer het daarna ‘n derde e-pos gestuur waarin sy die Zoutpansberger dreig met die maatskappy waar sy diens aanvaar het se advokaat.
“Het alreeds ons hoofkantoor gekontak – Ons besturende direkteur het gese jy Moet nie dat ons maatskappy advokaat die koerant aanvat nie. Ons besturende direkteur het gese dat regstappe geneem gaan word want julle vat my en die maatskappy se integriteit aan, en dat dit onder geen omstandighede geduld sal word nie dat enige employee se naam beswadder gaan word vir onwaarhede nie. Jy het tot 17h00 vanmiddag (sic).”
In hierdie stadium het die Zoutpansberger besluit om met die areabestuurder van die maatskappy, waar Coetzer diens aanvaar het, te skakel en om uit te vind of hulle bewus is van die dreigemente wat Coetzer namens die maatskappy teenoor die koerant uiter. Die maatskappy se naam is in geen stadium in die voorbladartikel genoem nie, aangesien dit nie relevant tot die artikel was nie. ‘n Skriftelike bewys van ‘n brief, wat skynbaar deur dieselfde areabestuurder op ‘n amptelike briefhoof van die maatskappy aan een van ongelukkige kaartjiekopers gefaks is, is ook aan die areabestuurder gestuur. In hierdie brief, waarin die areabestuurder sou verklaar dat “die volgende die waarheid is” word ‘n verduideliking aan die klaer gegee dat die ene mnr. Brown die groot skurk in die verhaal is, soortgelyk die verduidelik wat Coetzer aan die koerant in haar e-posse verstrek het.
In antwoord het die areabestuurder gesê sy dra geen kennis van die brief nie en dat sy nooit so ‘n brief geskryf of onderteken het nie. Sy het ook geen kennis gedra van enige regsaksie wat haar maatskappy, volgens Coetzer, teenoor die koerant oorweeg nie. Die areabestuurder het egter die koerant meegedeel dat hulle dadelik sal optree om te verhoed dat hul maatskappy se naam misbruik word. Vrydag is Coetzer geskors, hangende die uitslag van ‘n dissiplinêre verhoor. Die verhoor sou Donderdag (vandag) plaasvind.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
