ADVERTISEMENT:

 

Vier op waaghalsige wyse uit Limpopo gered

 

News  Date: 26 March 2004

 

MUSINA – Vier Zimbabwiërs is hier in 'n dramatiese reddingspoging uit die vloedige Limpoporivier gered.

Die vier, wat hongersnood in Zimbabwe wou ontvlug, was vir etlike dae lank, sonder kos en sonder beskutting, op 'n klip en op opdrifsels in die rivier gestrand, toe hulle deur 'n weermagpatrollie bemerk en deur polisie en 'n lid van die publiek te hulp gesnel is.

Hulle is na veiligheid gebring, na 'n waaghalsige reddingspoging wat vier ure geduur het. Polisiemanne en 'n lid van die publiek het in die poging 'n reddingstou na die gestrande manne uitgeswem deur vloedwater en krokodille in die rivier te trotseer. Hulle is bygestaan deur ankermanne op die rivieroewer.

Die Zimbabwiërs is in 'n erg-geskokte toestand na Musina gebring. Nadat hulle in die hospitaal behandeling ontvang het, is hulle na Zimbabwe gedeporteer.

Intussen is 'n soektog per helikopter en met behulp van die polisie se duikspan Vrydag onderneem na 'n vyfde lid van die groep wat glo vroeër deur verraderlike onderstromings in die rivier meegesleur is.

Op Musina het mnr. Johan Pretorius in 'n onderhoud besonderhede bekend gemaak van die drama wat verlede Dinsdagoggend omstreeks 11:30 tussen hekke 12 en 13 op die patrolliepad langs die rivier begin het. Hy het drie polisiemanne, kaptein Heslinga en inspekteurs Weideman en Swanepoel vergesel na die plaas Leeudraai, vanwaar berigte ontvang is van mense wat in die rivier in nood verkeer.

"Toe ons by die hek aankom, kon ons hulle reeds hoor skreeu. Twee van hulle het vasgeklou aan 'n stomp op 'n eiland van opdrifsels diep die rivier in. Sowat 23m verder was die ander twee op 'n klip. Hulle sou 'n heeltemal weerlose prooi gewees het vir die krokodille wat in groot getalle daar voorkom," vertel Pretorius.

"Ons het na hulle toe inbeweeg met toue, wat ons uiteindelik aan 'n stomp op die eiland en aan die klip vasgemaak het en het hulle toe voetjie vir voetjie deur die water teruggehelp na die oewer. Toe ons die twee op die klip bereik, het hulle ons meegedeel dat daar nog 'n vyfde een was, wat onder die water verdwyn het. Die klip was te klein vir almal."

Die klip en eiland waar die mans vasgekeer was, het na hul redding onder die stygende water verdwyn.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines