

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 March 2004
MOPANE – Die Soutpansberg Distrik Landbou-unie se moniteringsaksie om swaar vragverkeer van die sekondêre paaie af te hou, is verlede week na 61 dae beëindig. Die Westelike verbypad by die Baobab Tolhek is terselfdertyd ook gesluit.
Dit volg nadat die betrokke owerhede uitvoering begin gee het aan ooreenkomste wat die onderwerp van maandelange vertoë, onderhandelings en briefwisseling was. Die Landbou-unie het onderneem om sy aksie te staak, as die owerheid met 'n sigbaar- volhoubare oplossing vir die probleem vorendag sou kom.
Die owerheid het onderneem om die probleem met behulp van padtekens en wetstoepassing te hanteer. Die eerste padtekens is reeds by probleempunte aangebring.
In 'n buitengewone demonstrasie van goed- gekoördineerde, toegewyde gemeenskapsdiens het lede van georganiseerde landbou vir die tydperk van 62 dae daagliks 'n 24-uur voorligting- en moniteringsaksie behartig om te voorkom dat swaar vragverkeer sekondêre paaie in die omgewing ernstig beskadig. Swaar vragverkeer het drasties toegeneem op die paaie, deurdat voertuie die N1 verlaat het om die betaling van tolgeld by die omstrede Baobab-tolhek te vermy. Daar is vir die verkeer geen sinvolle alternatiewe roete gelaat met die oprigting van die Baobab tolhek nie.
Lede van die Landbou-unie se moniteringsaksie het vandeesweek gedrukte notas aan die bestuurders van swaar voertuie op die N1 uitgedeel om hul aandag daarop te vestig dat die Westelike Verbypad, wat beskikbaar was vir swaar voertuie wat nie oor die nodige tolgeld beskik het nie, vanaf Woensdag, 17 Maart gesluit sou wees.
Volgens 'n woordvoerder van die Landbou-unie het die betrokke owerhede ingestem om die nodige kennisgewingborde by die ingange van die verbode sekondêre paaie aan te bring en dit met die nodige wetstoepassing op te volg. Die jongste ontwikkeling volg nadat die aangeleentheid ook onder die aandag van die nasionale Minister van Vervoer gebring is.
Die minister se aandag is daarop gevestig dat swaar vragmotorverkeer na die oprigting van die Baobab Tolhek drasties toegeneem het op die sekondêre grondpaaie Oos en Wes van die N1, naamlik die Waterpoort/Mopane-pad, die Huntleigh-pad, die Bokmakierie/Mopane-pad en die Tshipise/Mopane-pad.
Die sekondêre paaie het gevolglik bykans onrybaar geword en gaan steeds vinnig agteruit. Dit gaan gepaard met 'n veiligheidsrisiko wat reeds verskeie kere manifesteer het in ongelukke wat selfs die internasionale spoorverkeer by geleentheid vir ure ontwrig het, as gevolg van ongelukke met vragmotors.
Die boere en ander gebruikers wat afhanklik is van die betrokke paaie kan dit nie meer gebruik nie. Die situasie het gevoelens teenoor vragmotorbestuurders ernstig vertroebel en 'n gevaarlike spanning geskep. Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie het positief betrokke geraak in 'n vasberade poging om 'n oplossing vir die netelige probleem te vind.

ADVERTISEMENT:
