ADVERTISEMENT:

 

Nandoni-vrektes bly ‘n raaisel

 

News  Date: 23 October 2009

 

Die gru-vonds van dooie krokodille, likkewane en visse in die Nandonidam het die afgelope week grootskaalse kommer laat ontstaan oor die oorsaak van die vrektes.

Die vrektes is Saterdag (17de) waargeneem deur konstruksiewerkers, waarna die Departement van Watersake en Bosbou op die toneel gekom het en die publiek gewaarsku het om nie van die vis van die dam te eet, alvorens die oorsaak van die vrektes nie vasgestel is nie. Luisteraars na Jakaranda FM het die waarskuwing Maandagoggend gehoor. Werknemers van die departement het ‘n ondersoek geloods en is besig om monsters te versamel en die dooie reptiele te bestudeer.

“Ons het drie dooie krokodille waargeneem en ander was klaarblyklik in ‘n staat van skok. Daar was ook dooie likkewane en vis. Die visse was reeds geëet en daar was nie baie van hulle nie,” het die provinsiale hoofdirekteur van Watersake, mnr. Alson Matukane, Maandag gesê.

Van die dooie reptiele is in die omgewing van die kampterrein aangetref. Die presiese oorsaak van die vrektes was teen druktyd nog nie bekend nie.

“Ek weet nie en kan nie eers spekuleer oor die oorsaak nie en of dit natuurlik of onnatuurlik was nie. Daar is baie organiese stowwe op die bodem van die dam en daar is ook menslike aktiwiteit en industriële aktiwiteit rondom die dam. Ons het heelwat monsters versamel en gaan steeds voort daarmee. Dit sal na Pretoria toe gestuur word vir ontleding,” het Matukane gesê.

Volgens bewerings is vergiftiging as ‘n oorsaak van die vrektes nie uitgesluit nie. Dit wek kommer by die plaaslike vissermanne wat ‘n bestaan maak uit die vis van die Nandoni. Van die vissermanne vang egter onwettig vis met nette.

“Omdat die dood van die krokodille so skielik gekom het, is vergiftiging een van die logiese afleidings. Gifstowwe kan met die rivier afspoel en vrektes veroorsaak. In die tagtigerjare was daar byvoorbeeld ‘n reuse visvrekte toe houers met gif in die Levuburivier afgespoel is,” sê prof. Ben van der Waal van die Departement Dierkunde van die Universiteit van Venda. Van der Waal sê ook dat monsters van die vleis en maag en lewers van die krokodille behoort te toon of daar swaar metale teenwoordig is.

“Klomp faktore saam kan die vrektes van krokodille veroorsaak. Hulle is aan die bokant van die voedselketting en eet die visse wat op hulle beurt goed eet wat op die bodem van die dam voorkom,” sê Van der Waal.

‘n Ander moontlike oorsaak is die besoedeling van die water as gevolg van die rioolwater in die bolope van die Nandoni.

Studente van die universiteit het tydens hul veldwerk al plekke by die Mvudirivier waargeneem waar rioolwater inloop vanaf die Thohoyandou-rioolplaas, wat nie reg funksioneer nie. Daarvandaan loop die Mvudi in die Dzindirivier, wat dan kom by die inloop van die Nandonidam.

Van der Waal sê dat daar aanduidings is dat die rioolwater van die rioolplaas inloop in die Nandonidam, wat vir drinkwater gebruik word.

“Dit is ‘n ernstige saak en dit gaan oor ons almal gesamentlik. Daar moet goeie bestuur wees om weer die rioolplaas aan die gang te kry,” het Van der Waal gesê. Intussen is ander kundiges van die universiteit ook druk besig met belangrike navorsing en toetsing van die Nandoni se water en word daar gewag op die uitslag van die toetse.

Dit laat vrae ontstaan rondom die uiteindelike geskiktheid van die water van die Nandonidam. Soveel gemeenskappe sien uit na die voltooiing van die pypleidings wat die water na die verskillende gemeenskappe sal vervoer om huidige waterkrisisse die hoof te bied. Min het egter lus vir besoedelde drinkwater, waarvan visvrektes gewoonlik die eerste aanduiding is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines