ADVERTISEMENT:

 

Afgeneem is die uitgewers van onafhanklike koerante in Limpopo wat Vrydag ‘n nuwe sambreelmaatskappy, Limpopo Independent Newspaper (LiN), gestig het. Voor (van links) is me. Sareta Lubbe (bemarkingsbestuurder: LiN) en me. Bea Emslie (Die Pos, Bela Bela). Agter van links is mnr. Francois Aucamp (Bulletin, Tzaneen), mnr Jasper Raath (Bosveld Bulletin, Lephalale), mnr Anton van Zyl (Zoutpansberger en Limpopo Mirror, Louis Trichardt en Thohoyandou) en mnr Willie Esterhuysen (Polokwane Observer, Polokwane). Foto: Elna Esterhuysen

Onafhanklike koerante span kragte saam

 

News  Date: 23 October 2009

 

Media-eienaars van die top onafhanklike gemeenskapskoerante in Limpopo het Vrydag in Polokwane vergader vir die formele stigting van Limpopo Independent Newspapers (LiN).

LiN is ‘n oorkoepelende maatskappy wat voortaan die belange van die voorste onafhanklike koeranttitels in Limpopo - Limpopo Mirror (Soutpansberg - Thohoyandou), Zoutpansberger (Soutpansberg), Polokwane Observer (Polokwane), Bulletin (Tzaneen), Die Pos (Bela Bela) en Bosveld Bulletin (Lephalale) - op nasionale en provinsiale vlak gaan behartig.

Die hoofdoel van die oorkoepelende struktuur is om as teenvoeter te dien vir gevestigde koeranttitels wat die mediabedryf vir dekades oorheers het en spesifiek om die onafhanklike titels se bedingingsmag op nasionale en provinsiale vlak te verhoog, ten einde ‘n meer gelykmatige verspreiding van die advertensiepoel te bekom.

Op die nuusfront sal die titels onder die oorkoepelende liggaam kragte saamspan om toe te sien dat lesers oor ‘n breë front oor aktiwiteite in Limpopo ingelig word.

LiN het ook ten doel om die uitgebreide kennis en wenresepte van die onderskeie uitgewers onderling uit te ruil, ten einde die onafhanklike gemeenskapskoerante as die voorste en verkose titels vir nasionale en provinsiale adverteerders, asook koerantlesers in Limpopo, te vestig.

Die gesamentlike sirkulasie van die onderskeie titels is ongeveer 500 000 lesers weekliks, wat van die oorkoepelende struktuur die grootste rolspeler in die gemeenskapspers in Limpopo maak.

Twee van die titels in die LiN-stal het vanjaar skoonskip gemaak tydens die Sanlam-toekenningsgeleentheid vir die Gemeenskapspers in Suid-Afrika en is as algeheel beste koerante in die land in die drie hoofkategorieë aangewys. Polokwane Observer is die beste groot koerant met ‘n drukoplaag van tot 15 000 koerante per week en Zoutpansberger is landwyd die beste klein dorpskoerant.

Anton van Zyl, bestuurder van die Zoutnet groep wat die Zoutpansberger en Limpopo Mirror verteenwoordig, was baie opgewonde oor die nuwe maatskappy. “Dit bied onmiddellike voordele vir beide die koerantpersoneel en -lesers. Vanuit ‘n besigheidsoogpunt geniet ons groter bedingingsvoordele en kan ons gesamentlik die verskillende titels bemark. Vir adverteerders bring dit mee dat besprekings maklik in titels gedoen kan word vanuit enige van die dorpe waar LiN-titels verteenwoordig is.”

Een van die doelstellings van LiN is om erkenning te gee aan prestasie op professionele vlak en personeel daardeur aan te moedig om werk van hoogstaande gehalte te lewer. “Daar is tans geen gesaghebbende forum wat erkenning verleen aan uitstaande joernalistiek in die provinsie nie. Hopelik sal ons via LiN ‘n jaarlikse kompetisie kan vestig wat hierdie funksie kan vervul,” sê Anton. Hy sê dat dit ironies is dat die Limpopo Provinsie nasionaal sowel as internasionaal erkenning ontvang vir hul uitstaande koerantprodukte, maar provinsiaal gaan dit ongesiens verby. Deur LiN poog die onafhanklike uitgewers om hierdie sowel as vele ander aspekte aan te spreek.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines