

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 October 2009
Met net die klere aan sy lyf moes ‘n bekende landdros van Louis Trichardt vir 13 dae lank saam met wildvreemde mense in die beknopte ruimte van ‘n piepklein motortjie bly.
Jan du Plessis het ingeskryf vir die Jacaranda RMFM se Live Inside Win the Ride-kompetisie. Die deelnemer wat die langste in die motor kon bly, sonder om deur die luisteraars uitgestem te word, het die kans gestaan om ‘n Peugeot 107 ter waarde van R125 000 te wen.
Hierdie kompetisie het behels dat Jan saam met vyf ander mense in die einste Peugeot in die Savannah Mall in Polokwane moes leef vir 14 dae.
Jan het die beperkte spasie met Katryn Smit (49), Moloko Magoshoa (30) en Ryan Paulsen (23) gedeel. Die vyfde deelnemer, Kobus Marais, moes om besigheidsredes na die tweede dag huis toe gaan. Nadat Jan verlede Vrydag uitgestem is, het Katryn die motor voor Ryan se neus weggeraap.
Daar was net een reël vir die kompetisie: alles wat in die motor ingegaan het, moes in die motor bly.
“Mense het geen benul wat dit is om meters van jou eie asblik te leef nie,” het Jan vandeesweek vertel.
Die kattebak van die motor het naderhand so vol geraak dat al die karmaats genoodsaak was om van die vullis onder die sitplekke binne-in die motor weg te pak.
Al die deelnemers was boonop aan die genade van Jacaranda se aanbieders en luisteraars uitgelewer, sodat die lewe binne die motor partykeer ‘n bietjie moeilik gemaak het.
Jan vertel dat hulle onder andere ‘n haas, ‘n potplant en ‘n goudvis in “hulle vier-slaapkamer huis” moes versorg.
‘n Mens sou kon dink dat die gebrek aan geriewe meeste mense na dag twee sou laat tou opgooi.
Nie Jan nie; sy strategie was van die begin af om net homself te wees, asof hy by sy eie huis is en homself heeltemal tuis te maak.
“Ons is darem een uur per dag gegun om uit die kar te klim om al ons goedjies te doen en bene te rek,” sê Jan.
Vir hom was dit egter ‘n groot bron van frustrasie dat hulle net twee keer die koerant gekry het en dit boonop moes deel.
Iets waaraan elke deelnemer ook gewoond moes raak was om in die kar te slaap.
“Party oggende het jy nog gelê en snork, dan was die mall al besig.”
Sal hy weer aan so ‘n kompetisie deel neem?
“Ja, beslis! Dit is hoe ek saamgestel is. Dit sou lekker gewees om die kar te kon wen, maar dit het vir my meer oor die uitdaging gegaan.”

ADVERTISEMENT:
