ADVERTISEMENT:

 

Verslae omstanders drom saam by die parkeerarea onder in die Hawama Noor sentrum, waar elektriese ontploffings in ‘n substasie twee mans beseer het. Inlas: Die binnekant van die substasie waar die elektriese ontploffings plaasgevind het.

Ontploffings ruk middedorp

 

News  Date: 30 October 2009

 

Twee mense is vandeesweek beseer en met brandwonde in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem, ná ‘n dubbele elektriese ontploffing in ‘n gebou in die sentrale sakegebied van Louis Trichardt.

Die twee ontploffings het voorgekom terwyl herstelwerk Dinsdag (27ste) aan die gang was aan die lugversorgingstelsel van die Mr Price Home winkel in die Hawama Noor-sentrum op die hoek van Songozwi- en Burgerstraat.

Die ontploffings, wat in die onderdak parkeerarea onder die sentrum plaasgevind het, het soos twee kanonskote deur die sentrale sakegebied weergalm. Na bewering is die een man, mnr. Martin Venter van Polokwane, wat besig was met die herstelwerk, in die eerste ontploffing ernstig beseer. ‘n Werknemer van die eienaar van die sakesentrum, mnr. Petrus Faasen, het Venter te hulp gesnel en is in die tweede ontploffing beseer. Die twee ernstig-beseerde mans is na die hospitaal afgevoer.

Omstanders het geskok toegekyk toe die mans deur digte rook en in vlamme gehul uit die elektriese substasie onder in die gebou gevlug het, onmiddellik ná die twee hewige knalgeluide. Stroombrekers in die distribusiebord in die substasie het vermoedelik ontplof.

‘n Personeellid van ‘n nabygeleë onderneming het vertel dat ‘n kollega van haar kort na die ontploffings by die kantoor ingehardloop en geskreeu het “Daar is ‘n man aan die brand!”

‘n Sekuriteitsbeampte en omstanders het gehelp om die vlamme te blus. Die beseerdes is per ambulans na die hospitaal gebring, waar hul toestand Woensdag as stabiel beskryf is.

Uit ‘n betroubare bron word verneem dat amptelike ondersoeke na die voorval reeds deur die Makhado Munisipaliteit en die betrokke provinsiale departemente onderneem word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines