ADVERTISEMENT:

 

Wyle Suretha Oosthuisen.

Suretha sterf ná baie kort kankerstryd

 

News  Date: 30 October 2009

 

Suretha Oosthuizen (nèe Breytenbach) is verlede Dinsdag, 20 Oktober, op Louis Trichardt oorlede aan kanker van die pankreas, presies twee maande nadat sy gediagnoseer is met dié terminale siekte.

Suretha, dogter Chris en Steffie Breytenbach, het aan die einde van 1997 gematrikuleer aan die Hoërskool Louis Trichardt. Sy was ‘n leerlingraadverteenwoordiger vir haar skool en vir vier jaar agtereenvolgens het sy ook die Limpopo Provinsie by die SA Netbal toernooi in haar ouderdomsgroep verteenwoordig. Sy was ‘n kranige atleet en het uitgeblink in verspring en hekkies. Haar akademie het egter nie agtergebly nie en sy het vele akademiese toekennings ontvang, asook erekleure.

Na skool het sy haar studies aan die Universiteit van Pretoria begin en in 2001 het sy haar B.Prim.Ed graad ontvang. In dieselfde jaar het sy na London verhuis, waar sy twee jaar lank skoolgehou het. Aan die einde van 2002 het sy teruggekeer SA toe en haar in Pretoria gevestig. Daar het sy met verstandelik- en liggaamlik-gestremde kinders gewerk by Tomorrow’s People, ‘n privaatskool in Faerie Glen. Sy het altyd ‘n groot liefde en medelye met gestremde kinders gehad en het dit as haar lewenstaak en roeping gesien om met hulle te werk.

Suretha was bekend as ‘n toegewyde en geliefde onderwyseres. Sy is in November 2005 getroud met Bertus Oosthuizen, ‘n IT-deskundige, en het in Februarie 2006 na Nederland verhuis, waar Bertus ‘n pos aanvaar het. Hulle het die afgelope drie en ‘n half jaar in Amersfoort gewoon. Suretha het daar ook kleuteronderwys gegee.

Suretha was ‘n besonder geliefde mens onder haar familie en vriende. God het haar geseën met ‘n besondere sagte hart vir haar medemens in nood. Haar wyd-oop glimlag en pragtige blou oë het harte gewen waar sy ookal gekom het. Sy laat haar man, Bertus, en haar pragtige seuntjie, Alexander (4 maande), agter, asook haar bedroefde ouers, sussie Elizma, oupa en ouma en ander familie en vriende.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines