ADVERTISEMENT:

 

Me. Desireé Smith en haar hondjie, Flip, kort voor hy weens ouderdom uitgesit is. Flip was die eerste luisterhondjie wat in Suid-Afrika opgelei is om dowes te help.

Flip groet sy dowe ounooi ná 17 jaar

 

News  Date: 30 October 2009

 

Suid-Afrika se eerste luisterhondjie, Flip, is na 17 mensejare oorlede.

Sy ounooi, me. Desireé Smith van Louis Trichardt, is baie hartseer. Flip was spesiaal opgelei om haar ore te wees, want Desireé (41) is gebore met senuweedoofheid.

Op 26-jarige ouderdom het Desireé in Pretoria gewerk waar sy op haar eie moes regkom. Haar moeder, me. Annette Smith, het destyds in ‘n TV-program gesien dat die Gidshondvereniging begin het om honde vir dowes op te lei. Sy het dadelik aansoek gedoen en Flip, ‘n baster-maltesie, was die eerste hond in die land wat die vier maande afrigting ondergaan het om ‘n dowe te help. Desireé en Flip het gou ‘n hegte band gevorm. As die voordeurklokkie lui, het Flip dadelik opgespring en na die deur gehardloop. Dan het hy teruggehardloop na sy ounooi en teen haar op-gespring. Hy het heen en weer tussen haar en die voordeur bly hardloop, totdat Desireé opstaan en die voordeur gaan oopmaak. Flip het dieselfde gedoen as ‘n telefoon lui of as iemand vir Desireé roep. Soggens as die wekker lui, het die vrolike wit bondeltjie op haar bed gespring en met haar gespeel totdat sy opstaan.

Nege jaar gelede het Desireé by haar ouers op Louis Trichardt ingetrek en is ‘n bekende gesig by Woolworths waar sy werksaam is. Die laaste paar jaar het Flip egter self ook doof geraak. Hy was ook blind - immers was hy al baie ouer as honderd in hondejare.

“Ons moes by hom sit en sy snoet in sy sagte kossies druk sodat hy kon eet. Ons het hom versorg soos jy ‘n oumens versorg,” sê Annette. “Hy het begin om teen alles vas te loop en van die trappe af te val. As hy buite was, kon hy nie weer self die deur kry nie,” sê Desireé se pa, mnr. Herman Smith.

Flip is Vrydag, 10 Oktober, uitgesit en daarna in Polokwane veras. Die Smiths het met vakansie vertrek om Desireé ‘n bietjie te bederf na die verlies van haar hondjie. Desireé wys die foto van die klein houtkissie met die as op haar selfoon.

Die vraag of Desireé haar luisterhondjie wil vervang, word vinnig en knap deur pa Herman in gebaretaal vertaal. Flip se ounooi sê nee, sy wil hom nie vervang nie. Desireé het vir Fifi, haar foxterriër, vyf marmotte, voëls en ‘n kat by Woolworths wat sy kos gee.

Die laaste klompie jare het Flip gesien dat Desireé regkom saam met haar ouers in die huis en met die nuwe tegnologiese ontwikkelings, soos ‘n selfoon wat vibreer. Sy rol het toe geleidelik verander van ‘n gids- en werkshondjie na ‘n troetelhondjie.

“Die laaste twee jaar het Flip genadebrood geëet,” sê Herman.

In 1994 het dit R4 000 gekos om ‘n luisterhondjie op te lei. Die Lions van Kloof in Durban het destyds Flip se opleiding geborg.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines