ADVERTISEMENT:

 

Botha-moordverdagtes se borgaansoek uiteindelik klaar

 

News  Date: 06 November 2009

 

Die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle op 19 Februarie vanjaar die 78-jarige mev. Tienie Botha op Louis Trichardt vermoor het, se borgaansoek is uiteindelik na bykans nege maande in aanhouding afgehandel.

Die vier, David Lihaiwa (29), Rudzani Mufamadi (29), Thobile Jili (26) en Thomas Ramudzuli (40), staan tereg op een klag van moord, een klag van gewapende roof en twee klagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Tydens die mans se eerste hofverskyning in Februarie is daar vertroulik verneem dat die mans se borgaansoek uitgestel is omdat die gemeenskap ontsteld sou wees as hulle wel sou borg kry.

Die vier se borgaansoek het wel ‘n aanvang geneem tydens hulle hofverskyning op 5 Junie vanjaar. Tydens hierdie verskyning het Mufamadi en Jili in hul borgaansoek beweer dat lede van die polisie die vuurwapens op hulle “geplant” het tydens hulle inhegtenisneming.

Die vier se saak is herhaaldelik uitgestel ná hierdie verskyning, nadat die vier se prokureur vir ‘n lang tydperk met siekverlof was.

Ná maande is die vier se borgaansoek weereens hervat tydens hulle hofverskyning op Donderdag, 22 Oktober. Tydens hierdie verskyning het Ramudzuli in sy borgaansoek beweer dat hy deur die polisie geïntimideer is en dat hy “bang was dat alle hel sal uitbreek as hy nie voldoen het aan die polisie se versoek om bewysstukke op die misdaadtoneel uit te wys nie.” Weereens is die borgaansoek uitgestel, nadat daar nie ‘n Zulu-tolk was om verrigtinge te vertaal nie.

Die vier se borgaansoek is op 26 Oktober hervat en afgehandel. Die vier sal egter tot 10 November moet wag tot hul volgende hofverskyning, wanneer daar uitspraak gelewer sal word ten opsigte van hul borgaansoek. Aanvanklik was daar vyf beskuldigdes in die saak, maar die een, die 36-jarige Manuel Zitha, is intussen dood.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines