

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 November 2009
Inwoners van Louis Trichardt en omstreke is die afgelope paar weke lastig geval deur ‘n toestroming van reisende agente wat ondermeer ‘n kragbesparingstoestel vir jou huis se warmwatertoestel en ‘n wonder voetbad kom smous het.
Hulle het die streek van die voorwêreld af ingeval met mooi praatjies van hoeveel duisende rande jy gaan spaar sou jy hulle unieke kragbesparingstoestel koop vir slegs R8 000 en die wonderbaarlike genesing van liggaam en siel wat jy gaan ervaar, sou jy verkies om die spesiale voetbad te koop, ook vir etlike duisende rande.
Van die agente het hul rieme lelik styfgeloop by ‘n paar inwoners, want jy kom klop mos nie ‘n mens wakker hier kort voor middernag nie. Ja, glo dit of nie, sonder om te skroom het hulle tot 22:30 in die aande ongenooid by mense aangeklop.
Meeste mense het egter nie geval vir die mooi praatjies nie en die agente aangeraai om maar liewers net aan te hou stap.
Maar daar was inwoners wat die beloftes op sigwaarde aanvaar het...
Een jong paartjie van die dorp het vertel dat hulle so meegevoer was met die verkoopspraat-jies, synde hulle ook graag hul deel wil doen om die land se elektrisiteitsnood te help verlig, dat hulle die kontrak vir die koop van die kragbesparingstoestel geteken het. Dit was nadat die agent homself vroeër die dag eers voorgedoen het as iemand wat klaarblyklik namens die munisipaliteit ‘n meningsopname doen ten opsigte van elektrisiteitsbesparing. Later die aand was hy terug om sy produk te smous. Hulle het ook toestemming gegee dat ‘n R500 deposito direk van hul kredietkaart afgetrek kon word, en daarna 39 maandelikse paaiemente van R356 (‘n totaal van R13 884) plus ‘n maandelikse administratiewe fooi van R45.
Deur die loop van die aand het die paartjie egter tyd gehad om bietjie te dink en besluit om die volgende dag die kontrak te kanselleer. Dit was nadat hulle ook bietjie meer gaan uitvind het oor die betrokke produk op die Internet, maar niks goeds daarvan gelees het nie.
Van kansellasie wou die agent wat die vorige aand so gladdebek en vroom met die paartjie gepraat het, niks weet nie. Binne ure het hy blykbaar ontaard in ‘n arrogante klein blikskot-tel.
“O nee, julle verstaan nie. Julle gaan maar net die kontrak moet betaal” is die paartjie meegedeel. Dit ten spyte daarvan dat die fynskrif agterop die kontrak hulle toelaat om dit te kansel-leer. Volgens die agent het hulle blykbaar hulle reg om te kanselleer weggeteken toe hulle die kontrak geteken het. Die paartjie het dadelik die maatskappy se hoofkantoor in Hatfield, Pretoria, geskakel, maar dié het hulle meegedeel dat hulle nie kansellasies hanteer nie en dat hulle die kantoor in die Kaap moes skakel.
So gesê, so gedaan. Die Kaapse kantoor het hulle egter versoek om die kansellasieskrywe na daardie kantoor te faks. Die faksnommer het egter nie gewerk nie, en weer is die Kaapse kantoor geskakel. Dié keer is die paartjie versoek om die kansellasie vorm per e-pos te stuur. Dit is gedoen, maar geen erkenning van ontvangs is gegee nie. Intussen het die vyf dae afkoel-periode begin uitloop, met geen poging van die maatskappy om die paartjie behulpsaam te wees nie.
Einde ten laaste het die paartjie die dienste van plaaslike prokureur Johan Hammann (jr.) bekom en, danksy sy hulp, is die kontrak, ná baie naels kou vir die paartjie, gekanselleer.
Hammann het by navraag verduidelik dat Artikel 121 van die Kredietwet (Wet 34 van 2005) spesifiek handel oor die verbruiker se reg om ‘n kredietooreenkoms binne vyf besigheidsdae (die afkoelperiode) tersyde te stel.
“In hierdie geval was die Kredietwet van toepassing, want rente word gehef, asook sekere kostes,” het Hammann gesê. Wat betref die mededeling dat die paartjie hul reg om die kontrak te kanselleer, weggeteken het, het Hammann gesê dat niemand ‘n klousule in ‘n kontrak kan inbring wat strydig is met die wet nie.
“Die paartjie het die kontrak derhalwe binne hul reg gekanselleer,” sê Hammann.
Maar wat kan verbruikers doen om nie ook in so ‘n slaggat te trap nie?
Een van die land se voorste verbruikers¬joernaliste, me. Wendy Knowler van Kwazulu-Natal, het by navraag gesê verbruikers moet nooit hulself tot enige ooreenkoms verbind op die ingewing van die oomblik nie, veral nie wanneer hulle per telefoon geskakel word of besoek word deur ‘n reisende agent nie.
“Sê vir hulle jy wil eers bietjie die produk navors en dink oor die transaksie,” sê Knowler. Sy het aanbeveel dat verbruikers die produk op die internet Google, of webtuistes soos hellopeter.com besoek wat hulle kan help met inligting. Sy sê as hulle dan kom met die klassieke spesiale prys vir vandag alleenlik-aanslag, moet die verbruiker onmiddellik uit die transaksie onttrek. Knowler het ook gewaarsku dat met Eskom se beplande elektrisiteitsverhogings, daar ‘n toestroming gaan wees van agente wat sogenaamde “besparingstoestelle” smous. Dus, sê Knowler, moet verbruikers ekstra versigtig wees.
Buiten vir bogenoemde, bly die wysste raad ook steeds om nooit enige kontrak te teken wat die verbruiker nie deurgelees het nie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
