ADVERTISEMENT:

 

Lanie Kruger sterk tans goed aan ná die ongeluk waarin sy haar man, Franco, op 11 Oktober aan die dood moes afstaan. Foto verskaf.

Lanie toon goeie herstel ná ongeluk wat eggenoot eis

 

News  Date: 06 November 2009

 

Ten spyte van haar nagmerrie ondervinding sowat drie weke gelede, waarin sy haar eggenoot aan die dood moes afstaan, sterk Lanie Kruger van Louis Trichardt goed aan.

Lanie en haar man, Franco, asook die egpaar se vriende Nardus en Marietjie Barnard, was op pad huis toe na ‘n naweekwegbreek toe ‘n noodlottige ongeluk die lewe van Franco (27) geëis het. Die vier vriende was Sondagaand, 11 Oktober, onderweg na Louis Trichardt, toe Franco se bakkie met ‘n stilstaande voertuig gebots het naby die Nylplaza tolhek.

Met die trefslag het Franco se bakkie deur die lug getrek en is Lanie uit die motor geslinger. Franco het ernstige kop- en nekbeserings opgedoen en het later in die ambulans aan sy beserings beswyk. Lanie is ná die ongeluk na die waakeenheid van die MediClinic in Polokwane oorgeplaas, ook met ernstige kopbeserings.

Sy is onder swaar verdowing gehou, met kwaai drukking op die brein.

Familie en vriende was oorstelp van vreugde toe die drukking stelselmatig begin afneem het en die verdowingsmiddels geleidelik verminder kon word.

Lanie kon vir die eerste keer weer op Vrydag, 23 Oktober, die dag van Franco se begrafnis, met haar ouers praat. Haar man is vanuit die Gereformeerde Kerk op Tzaneen begrawe.

‘n Verheugde Nardus het vandeesweek gesê dokters is tevrede met Lanie se goeie vordering en dat sy beslis besig is om die pad na herstel te stap. Dit is nog net haar korttermyn geheue wat deur die ongeluk geaffekteer word.

Sy is reeds verlede Donderdag oorgeplaas na die privaathospitaal in Tzaneen, sodat sy nader aan haar ouers kan wees.

Lanie en Franco het hulle sowat ‘n jaar en ‘n half gelede op Louis Trichardt gevestig saam met hulle seuntjie Reuben (2).

Lanie het op 1 September by Salon Lu-iz as haarkapster begin werk.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines