ADVERTISEMENT:

 

Raad waarsku teen eie herstelwerk

 

News  Date: 06 November 2009

 

Die Makhado Munisipaliteit het hierdie week ‘n ernstige waarskuwing gerig aan inwoners om onder geen omstandighede te poog om self elektriese herstelwerk of koppelings te doen nie, tensy hulle ‘n geregistreerde elektrisiën is.

Die waarskuwing volg na die byna noodlottige ongeluk in die sentrale sakegebied van Louis Trichardt op Dinsdag, 27 Oktober, waartydens twee mans ernstige brandwonde opgedoen het in ‘n dubbele elektriese ontploffing.

Die ontploffings het voorgekom terwyl herstelwerk aan die gang was aan die lugversorgingstelsel van die Mr Price Home-winkel in die Hawama Noor-sentrum. Mnr. Martin Venter van Polokwane, wat besig was met die herstelwerk, is in die eerste ontploffing ernstig beseer. ‘n Werknemer van die eienaar van die sakesentrum, mnr. Petrus Faasen, het Venter te hulp gesnel en is in die tweede ontploffing beseer.

Mr T. S. Ndou, waarnemende munisipale bestuurder, het deur middel van ‘n skrywe aan die Zoutpansberger inwoners se aandag gevestig op die nuutste wysiging ten opsigte van die wet of beroepsveiligheid (Wet 85 van 1993) met betrekking tot die regulasies ten opsigte van elektriese installasies op persele. Die wysigings is vervat in regeringskennisgewings 31975 van 6 Maart 2009.

Dit bepaal onder meer dat die gebruiker of verhuurder verantwoordelik is vir die veiligheid, veilige gebruik en instandhouding van ‘n elektriese installasie wat deur hulle gebruik of verhuur word. Die gebruiker of verhuurder moet ook in besit wees van ‘n geldige sertifikaat van voldoening ten opsigte van die installasie se veiligheid wat uitgereik is deur ‘n gekwalifiseerde en geregistreerde elektriese kontrakteur. ‘n Gekwalifiseerde kontrakteur word geag ‘n persoon wat ingevolge die regulasies van die Departement van Arbeid geregistreer is.

Verder word bepaal dat geen persoon, buiten ‘n gekwalifiseerde en geregistreerde elektriese kontrakteur, toegelaat sal word om aan die elektrisiteitsverskaffer (in hierdie geval die Makhado Munisipaliteit) se netwerk te werk nie en selfs al is die persoon gekwalifiseer en geregistreer, moet toestemming vooraf van die verskaffer verkry word. Hierdie bepaling geld vir alle vorme wat elektriese werk, hetsy vir lae-, medium- of hoë- volt werk. Persone wat hierdie bepaling verontagsaam, sal geag word doelbewus met die verskaffer se in-frastruktuur te peuter, dit te steel of te beskadig.

Dit is verder ook die gebruiker of verhuurder van ‘n elektriese installasie se plig om seker te maak dat ‘n elektriese kontrakteur gekwalifiseer en geregistreer is, voordat enige elektriese werk begin aan die elektriese installasie onder hulle beheer. Sou die gebruiker of verhuurder, wat ookal die geval mag wees, hierdie regulasies verontagsaam, sal hy/sy verantwoordelik gehou word vir alle skade aan eiendom, lewensverlies, beserings wat ‘n persoon of dier mag opdoen, asook alle derdeparty eise ten opsigte van ander gebruikers van die elektriese installasie vanweë kragonderbrekings wat weens die verontagsaming van hierdie bepalings kan plaasvind. Gebruikers en verhuurders van elektriese installasies loop ook die gevaar dat hul versekeringseise nie sal uitbetaal nie, aangesien die verontagsaming van hierdie regulasies as nalatigheid aan hulle kant geag sal word.

Persone wat onseker is oor hul verantwoordelikheid ten opsigte van elektriese installasies onder hulle beheer word genooi om met hetsy Eskom of die munisipaliteit as plaaslike verskaffer te skakel.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines