

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 November 2009
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het die afgelope week sy dankbaarheid uitgespreek vir die reën wat oor dele van die streek begin val het. Tog gaan talle gebiede steeds gebuk onder ernstige droogtetoestande.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg DLU, het gesê dat die gebied nog aan die wolke se agterspeen suig en min reën is nog gemeet.
“Reën is nou dringend nodig en daar word na droogtehulp gekyk. Van die boere is reeds besig om hul diere te verkoop, aangesien daar net nie meer geld oor is om voer aan te koop nie,” sê Hoffman.
Die Alldays Boerevereniging het tussen 10m en 15mm gerapporteer, met kwaai haelskade tussen Alldays en Waterpoort (Langjan se kant toe). Van die groenteboere se oeste is totaal verwoes. Op Bandelierkop is tussen 20mm en 25mm op plase gemeet met die Bo-Brakrivier Boereverening wat tussen 8mm en 120mm rapporteer. Wat Levubu betref, is tussen 15mm en 50mm op plekke die afgelope week aangeteken, met die Louis Trichardt Boerevereniging wat tussen 15mm en 30mm op plase gemeet het. Op Linton is tussen 3mm en 40mm op plase gemeet, met Mopane en Waterpoort wat steeds baie, baie droog is met onderskeidelik tussen 7mm en 15mm en 5mm en 10mm wat gemeet is.
Vanaf Polokwane se kant rapporteer mnr. Jannie Jacobs, voorsitter van die Pietersburg DLU, dat in die Leg-kraal-gebied die reënval gewissel het tussen 7mm en 27mm.
“Plase nader aan die Sandrivier het baie min reën gehad en 7mm doen min vir die droogte wat nog daar heers. Daar was gelukkig geen haelskade in die gebied nie,” sê Jacobs.

ADVERTISEMENT:
